Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Ons hou van

Pienk bome vir borskanker

Jy kan bydra tot kankerbewustheid deur pienk materiaal om ’n boom in jou omgewing vas te maak as deel van die Pink Trees for Pauline-inisiatief. Estée Lauder is ook hierdie jaar deel van dié inisiatief.

Die Pink Trees for Pauline-inisiatief is die eerste bewustheid- en fondsinsamelingsinisiatief vir kanker waarby meer as een kankerorganisasie geldelik baat vind. Van al die geld wat ingesamel word, word 80% binne die dorp aangewend vir kankerpasiënte en hul families. Die ander 20% word gebruik om Pink Trees for Pauline uit te brei sodat die inisiatief volgende jaar ’n nóg groter impak kan hê.

Die inisiatief is in 2012 in Graaff-Reinet deur dr. Pam Kerr ’n opvoedkundige sielkundige, Adri van Nieuwenhuizen wat borskanker oorleef het, en Carol-Ann van Jaarsveld begin. Carol-Ann se ma én ouma is albei aan borskanker oorlede. Hul name was albei Pauline, vandaar die naam van die inisiatief.

Deur pienk materiaal aan die gemeenskap te verkoop, het hulle R210 000 aan die Kankervereniging en Distrikte-organisasie in Graaff-Reinet ingesamel. Dié organisasie ondersteun kankerlyers in Graaff-Reinet en die omliggende dorpe.

Pink Trees for Pauline se doel is om gemeenskappe in dorpe en stede regoor Suid-Afrika en Namibië betrokke te kry by hierdie projek. Elke dorp wat aan dié inisiatief deelneem, het ’n komitee wat borge vir pienk materiaal soek wat Pink Trees for Pauline dan aan ondernemings en die publiek verkoop. Tans neem meer as 60 dorpe aan dié inisiatief deel. Estée Lauder ondersteun Pink Trees for Pauline vanjaar deur meer bewustheid rondom dié inisiatief te skep.

Adri, besturende direkteur van Pink Trees for Pauline, sê die aantal dorpe wat deelneem, word daagliks meer. Sy beplan om dié week ’n lys van al die dorpe op hul webblad (www.pinktrees.co.za) te plaas. Sy sê ook dat party dorpe, onder meer Queenstown, die veldtog wil deurvoer tot die einde van November, sodat dit ook deel uitmaak van ‘Movember’. Die lappe moet egter aan die einde van November afgehaal word en daarna kry plaaslike liefdadigheidsorganisasies die materiaal om te gebruik soos hulle goeddink.

SARIE se skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne (foto onder), was verlede week by die bekendstelling van die inisiatief in Johannesburg en het gehelp om pienk materiaal rondom bome in Parkhurst, Johannesburg te draai.

Foto: Twitter

* Besoek Pink Trees for Pauline se webwerf www.pinktrees.co.za, hul Facebook-blad of www.esteelauder.co.za vir meer inligting.