FOTO: Instagram

FOTO: Instagram

Ons hou van

Rihanna dra trots Suid-Afrikaanse naels

Die sangeres Rihanna was trots Suid-Afrikaans met haar optrede in Johannesburg gisteraand. Albei haar duimnaels was met die Suid-Afrikaanse vlag versier, terwyl die res van haar naels rooi geverf is. 

Naelkuns is op die oomblik een van die gewildste neigings in skoonheid. Bekendes soos Katy Perry, Zooey Deschanel, Cara Delevingne en Kelly Osbourne volg almal dié neiging.

FOTO: instagram.com

FOTO: instagram.com

As jy bang is dat jou naels te besig lyk, is dit slim om al jou naels een kleur te verf en dan naelkuns op net een nael van elke hand te doen, soos Rihanna se manikuur wat Minx Nails gedoen het.

Beproef dié tendense!

Bont en helder

Helderkleurige motiewe soos luiperdvel, geometriese patrone en letters is een van die grootste neigings vir naelkuns. Die sangeres Rita Ora het vroeër vanjaar ’n patroon wat soos rooi kant lyk op haar naels gedra (regs onder) en Katy Perry het dié neiging gevolg toe sy haar naels vir verlede jaar se Amerikaanse verkiesing met die motiewe van die Amerikaanse vlag versier het (links onder).

Patrone en prentjies

Kolle, strepe, blokke en selfs sketseCara Delevingne en Zooey Deschanel is die meesters van dié neiging. Cara se kolletjies-patroon (links onder) was vroeër vanjaar ’n treffer. Zooey se naels het by die Grammy-toekennings (heel onder) aan die begin van die jaar almal aan die gons gehad met hul rolprenttema – en by die Emmy-toekennings (regs onder) was dit weer geometriese blokke met kolle.

Skitterend

’n Bietjie blink lyk altyd glansryk, veral vir die aand! Volg Kelly Osbourne (regs onder) en Selena Gomez (links onder) se voorbeeld met mooi blinkers in hul naellak.

Ombré

FOTO: www.facebook.com

FOTO: www.facebook.com

Nie net hare lyk mooi met die ombré-voorkoms nie! Naels met ’n donker skakering wat geleidelik in ’n ligte kleur oorgaan, is baie gewild. Die Britse sangeres Lily Rose Cooper (oftewel Lily Allen) kombineer dié neiging met ’n luiperdvelmotief.

Kyk dié video om te sien hoe jy ook die ombré-voorkoms op jou naels kan kry.

Kleur met ’n Franse flair

Zooey Deschanel is ’n voorloper wanneer dit by naelkuns kom. Die ster van die TV-reeks New Girl en die fliek 500 Days of Summer dra die Franse manikuur soms in helder kleure, soos op die foto met haar pers naels wat sy op Instagram gedeel het (links onder). Katy Perry het dié voorkoms al met ’n neutrale nael en ’n helder punt gedoen (regs onder).

Probeer dié neigings met Elegant Touch in Pink Leopard of Rainbow Leopard (vanaf R90 by Dis-Chem) of met die Essence Nail Art Stickers (R20).

Patrone en sketse kan maklik genoeg geskep word met Bajo Brands se Mani-Pedi-Pen (R100) wat jou help om jou naels te verf én te versier met ’n oulike kwassie én penpunt.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vir naels met blinkers kan jy Tip Top se beperkte Candyland-reeks (R80) probeer – jy verf eers jou naels in ’n pastelskakering en daarna verf jy ’n laag blinkertjies bo-oor. Beskikbaar in ses skakerings by Clicks en Foschini.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Britse ontwerper Henry Holland van House of Holland het vroeër vanjaar saam met Elegant Touch ‘n reeks ontwerper-kunsnaels, Elegant Touch House of Holland, begin (R90 by Dis-Chem).

Manikuursagte hande by die huis!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Gee jou hande ’n manikuurbehandeling in jou eie huis. Aroma Soothz se Soothing Handz-handskoene (R308), wat saam met ’n spa-room vir jou hande en voete te koop is, maak jou hande (én voete) glad en sag in net ’n halfuur. Beskikbaar by uitsoeksalonne en -apteke, asook aanlyn by www.aromasoothzdirect.co.za.