FOTO: Instagram (@maccosmetics)

FOTO: Instagram (@maccosmetics)

Ons hou van

SARIE se gunsteling-M.A.C-grimeerreekse

Die skoonheidshuis M.A.C is bekend vir hul interessante beperkte uitgawes van grimeerreekse. En die inspirasie vir dié grimeerreekse kom van orals! Bekendes soos Rihanna, Brooke Shields en Elie Goulding het al met só ’n reeks gespog, asook ikoniese karakters soos die Barbie, Wonder Woman en die geliefde strokiesprent karakter Snoopy. Die Britse Marie Claire het onlangs hul gunsteling-M.A.C-grimeerreekse gekies en SARIE het besluit om dieselfde te doen.

H&M by Paryse Modeweek en ál die bekendes

Hiér is ons gunstelinge:

The Rocky Horror Picture Show

Aanhangers van dié musiekkomedie, wat gebaseer is op die The Rocky Horror Show-musiekblyspel, kon kies uit 21 produkte wat geïnspireer is deur die sterk grimeervoorkomste van filmkarakters soos Dr. Frank N. Furter, Magenta en Columbia. Die ikoniese bloedrooilip-embleem het ook op die verpakking van die produkte gepronk, wat onder meer lipstiffies, oogskadu’s, blosser, maskara, oogpotlode en grimeerpoeier met glinsterstof ingesluit het.

The Simpsons

Ons was mal oor M.A.C se The Simpsons-grimeerreeks, wat met niemand anders nie as supervrou en -ma Marge Simpson gespog het as die gesig van die reeks. Met haar kenmerkende groot oë, lang wimpers en blou byekorf-haarstyl in gedagte het dié speelse grimeerreeks uit twee oogskadupalette, ’n poeierblos, lipglans, vals wimpers en naelplakkers bestaan. Aanhangers kon hulself ook verlekker in speelse produkname soos Vivacious Vacuum Cleaner Bag (vlootblou oogskadu), Nacho Cheese Explosion (neongeel lipglans) en Sideshow You (koraalpienk blos).

M.A.C. The Simpsons-grimeerreeks

M.A.C. The Simpsons-grimeerreeks

Skoonheidshuis stel ‘slim’ grimeer-app bekend

Sharon and Kelly

Die bekende ma en dogter Sharon en Kelly Osbourne het ook al saam met M.A.C hul eie grimeerreeks, Sharon and Kelly, bekend gestel. Die reeks het onder meer oogskadu’s, lipstiffies en borsels bevat wat deur Sharon en Kelly se onderskeie style geïnspireer is. Selfs die verpakking van die produkte het elkeen se kenmerkende haarkleur weerspieël – die Sharon-produkversameling het in vurige rooi verpakkings gekom, terwyl die Kelly-produkversameling in modieuse pastelpers verpakkings te sien was. Ons het veral van Kelly se produkversameling gehou. Sy het ook haar gunsteling-skoonheidsgeheim verklap: “Ek glo ’n outydse skeerroomborsel is die beste manier om onderlaag aan te wend, daarom het ek só ’n tipe borsel vir my versameling gekies.”

Maleficent

Selfs die Disney-film Maleficent se gelyknamige superfeeks was al die inspirasie vir een van M.A.C se grimeerreekse. In hul Maleficent-reeks was lipprodukte in helderrooi skakerings en ’n oogskadu-palet, oogomlyners, ’n blosser, en ’n verbronser in donker sensuele kleure  – eie aan die misterieuse gevoel van dié rolprent.

Marilyn Monroe

Dis nou reeds 50 jaar sedert die aktrise Marilyn Monroe op 36 dood in haar slaapkamer gevind is, maar haar skoonheid is nog lank nie vergete nie. M.A.C het hulde aan dié stylikoon gebring met hul beperkte uitgawe Marilyn Monroe-grimeerreeks. Jy kon kies uit ’n wye reeks grimering – van lipstiffie, blosser en oogskadu tot gesigpoeier, maskara en vals wimpers – alles in skakerings kenmerkend van Marilyn. Die produkverpakkings het gespog met stylvolle swart-wit foto’s van Marilyn.

marilynmonroe_makeup1

M.A.C Marilyn Monroe-grimeerreeks

Supermodelle verklap hulle slaap soms met grimering aan – lees meer!