Ons hou van

Skoonheid se nuutste gier! Alles oor gesigsproei-middels

Die SARIE-skoonheidspan het ’n nuwe obsessie … gesigsproeimiddels! In vandag se gejaagde lewe is een produk met talle voordele al hoe meer die antwoord. Nóú is skoonheid se nuutste gier gesigsproeimiddels met ekstra bestanddele wat vel verfris, bevog, kalmeer én voed. Noem dit sommer wonderwater! Hiér is alles wat jy moet weet…

Amalia Uys deel haarwenke vir dik hare!

Het jy geweet? Jy het ’n keuse tussen twee tipes gesigsproeimiddels: Suiwer mineraalwater (thermal water) en ’n sproei met ’n mengsel van water en bestanddele soos gliserien, essensiële olies en plantekstrakte.

Wat doen ’n gesigsproeimiddel nou eintlik?

Die meeste van ons het al gehoor van suiwer mineraalwater (thermal water), afkomstig van natuurlike waterbronne, waarmee jy deur die dag jou gesig kan verfris en bevog. Deesdae is gesigsproeimiddels wat ’n mengsel van water en bestanddele soos gliserien, essensiële olies en plantekstrakte bevat die nuwe sterre. Buiten dat ’n gesigsproei met ekstra bestanddele nes ’n suiwer mineraalwater jou vel deur die dag verfris en bevog, help dit ook om jou grimering vars te hou, sê Gerhard Naude, plaaslike opleier van die skoonheidshuis Bobbi Brown. Jy kan dit selfs aanspuit voordat jy grimeer om as basislaag (primer) te dien. As jou vel bevog is, lyk jou grimering net mooier.

Tired skin instantly revived…love love love it xx @bobbibrownuk #bobbibrown #makeup #skincare #facemist #loveit

A photo posted by BBPRO_HannahMartin (@bbpro_hannahmartin) on

Hoe spuit ek dit aan?

Hou die sproei-bottel ’n armlengte van jou gesig af en spuit gereeld deur die dag sowat drie spuite in ’n sirkel oor jou hele gesig sodat die fyn mis eweredig versprei, sê Gerhard. Anders as suiwer mineraalwater hoef dié gesigsproeie nie geklad te word nie omdat dit bestanddele bevat wat met jou vel bind en daarom nie van jou vel af sal verdamp nie.

Kenner se wenk

“Baie vroue tik deur die dag ’n deursigtige poeier aan om hul grimering op te knap en oortollige olie te absorbeer. Maar dit kan aangeplak lyk. Spuit ’n gesigsproei bo-oor die poeier om dié probleem te voorkom en jou vel ’n gesonde glans te gee,” is Gerhard se raad.

Kyk uit vir dié sterbestanddele in jou gesigsproei

*Hialuronsuur en gliserien: Dit trek water soos ’n magneet na jou vel aan en versterk jou velwand om vog in te seël.

*Rooswater-ekstrak: Dit is anti-inflammatories en streel ’n sensitiewe en droë vel.

*Vitamien E en C, en kamille-, groentee- en druiwepit-ekstrak: Al dié bestanddele is goeie antioksidante en voordelig vir alle veltipes.

Internet gons oor dié kuif… Sal jý ook?

Probeer dié gesigsproeimiddels:

1. Bobbi Brown Face Mist (R320)

Groentee, komkommer en kamille in Bobbi Brown Face Mist (R320) verfris en streel jou vel heeldag lank

2. Inglot Refreshing Face Mist Combination to Oily Skin (R129)

Ideaal vir ’n olierige vel - Inglot Refreshing Face Mist Combination to Oily Skin (R129). By uitsoekwinkels van Edgars

3. Clarins Fix’ Make-Up Refreshing Mist Long-Lasting Hold (R335)

Grimering lyk heeldag vars met Clarins Fix’ Make-Up Refreshing Mist Long-Lasting Hold (R335) wat vitamien C en pomelo-ekstrak bevat

4. Placecol Illuminé Anti-Oxidant Mist (R340)

Maak Placecol Illuminé Anti-Oxidant Mist (R340) deel van jou velsorgroetine om vel ekstra te voed en te versterk. By Placecol-salonne

5. Mario Badescu Skin Care Facial Spray with Aloe, Herbs and Rosewater (R250)

Dié sproei bevogtig vel intens en het boonop ’n soet roosgeur - Mario Badescu Skin Care Facial Spray with Aloe, Herbs and Rosewater (R250). By www.mariobadescu.co.za

Bronne: www.livestrong.com

EKSKLUSIEF: Ontwerper Suzaan Heyns wys haar eie trourok