FOTO: Instagram (@peopleschoice)

FOTO: Instagram (@peopleschoice)

Ons hou van

Skoonheidsgunstelinge by People’s Choice-toekennings

Hollywood se toekenningseisoen het gisteraand afgeskop! En die SARIE-skoonheidspan kan nie wag om te sien watter opwindende grimeervoorkomste en haarstyle vanjaar op die rooi tapyt gaan opduik nie. Gisteraand was dit die People’s Choice-toekennings en nude lippe en rokerige oë was besonder gewild. Ons gunsteling-voorkomste vir die aand is elkeen iets anders en bied inspirasie vir elke styl en smaak.

Kyk ook na ons top-10 mooiste rokke by die People’s Choice-toekennings

Lucy Hale

Voorkoms: Elegante drama met rokerige oë

Die TV-ster Lucy Hale was in die kol met subtiele rokerige oë, blosende wange en rooi-pers lippe. Dié lipstiffieskakering gaan later vanjaar ’n groot tendens tydens die kouer maande wees. Haar gevlegte opgekamde haarstyl komplementeer haar swart rok en skep drama en elegansie.

Kate Hudson

Voorkoms: Neutraal met treffende oë

Aktrise Kate Hudson het besluit om haar oë te laat uitstaan met ’n donker oogomlyner en ekstra lang wimpers. Die res van haar grimering is neutraal en glansend en pas by die eenvoud van haar wit eenstuk.

Claire Danes

Voorkoms: Klassiek met rooi lippe

Jy kan nooit verkeerd gaan met klassieke rooi lippe nie. Boonop hou ons ook van die Homeland-aktrise se moeitelose lob-haarstyl (lang bob) wat steeds sjiek lyk.

Shay Mitchell

Voorkoms: Sexy met ’n brons gelaat

Die aktrise Shay Mitchell, van die TV-reeks Pretty Little Liars, het gespog met ’n verbronsde gelaat en neutrale grimering. Daarby skep haar reguit hare en stywe swart rok ’n sexy voorkoms.

Alison Brie

Voorkoms: Natuurlik met sagte golwe

Die aktrise Alison Brie se natuurlike grimeervoorkoms en sagte golwende haarstyl komplementeer haar mentgroen rok uitstekend. Skep sélf die voorkoms met ’n paar lae maskara, ’n ligpienk lipstiffie en jou krultang.

Vanessa Hudgens

Voorkoms: Gewaagd met metaalkleurige lippe

Wie sou kon dink dat die 90’s se metaalkleurige lippe weer ’n verskyning sou maak? Gelukkig dra die aktrise en sangeres Vanessa Hudgens dié gewaagde voorkoms perfek deur haar koper lippe met ’n rokerige oogskadu in ’n metaal-skakering en teruggekamde hare te kombineer.

Netflix nou in SA!