FOTO: Instagram (@lorealparisusa)

Ons hou van

Skoonheidswenke nou op jou slimfoon en tablet

Stap elke dag foutloos by die huis uit met dié vier skoonheidshuise se handige apps.

1. Revlon

Die skoonheidshuis Revlon het onlangs hul Revlon SA PR-app bekend gestel wat spesiaal vir Suid-Afrika ontwikkel is. Dié indrukwekkende app bevat Revlon se nuutste tendense, nuwe produkte, skoonheidswenke, naelkuns en video’s. Ons is veral mal oor die stap-vir-stap-voorkoms-aanwysings wat deur Emma Stone (een van die Revlon-gesigte) se karakter in die film The Amazing Spider-Man geïnspireer is.

2. L’Oreal

Die Paryse skoonheidshuis L’Oréal  se Color Genius-app help jou om jou grimering by jou uitrusting te laat pas. Die app laat jou toe om ’n foto van jou uitrusting te neem – dan kies jy jou gelaatskleur, en besluit of jy ’n dag- of nag-voorkoms wil hê. L’Oréal stel dan verskeie grimeerproduk-kombinasies voor om jou uitrusting te komplementeer of selfs te kontrasteer as jy avontuurlustig voel. (Net beskikbaar vir iPhone-slimfoon)

Internasionale grimeerkunstenaar deel haar grimeerwenke

3. O.P.I

As jy mal is oor naellak is O.P.I se naellak-app net vir jou. Met dié app kan jy O.P.I se uitgebreide reeks naellak-kleure op jou naels toets om só die perfekte kleur te kry. Jy kan ook jou naellengte en gelaatskleur verstel.

opi app

4. Inglot

Ondergaan ’n gedaanteverwisseling sonder om ’n sent te spandeer. Met die Inglot Virtual Makeover-app kan jy ’n foto van jouself oplaai en dan met grimering in verskillende kleure en style op dié foto speel. Nadat jy jou perfekte voorkoms gekies het, kan jy selfs sien watter Inglot-produkte jy alles gebruik het.

Laai al vier dié apps gratis af op Apple iStore vir jou iPad-tablet of iPhone-slimfoon.

Nóg ’n wenk – kry só helder naelkleur