Ons hou van

Voller wimpers vir jeugdiger oë

Latisse, ‘n middel wat die wimpers verleng, verdik en donkerder maak, is onlangs deur die Amerikaanse Raad op Voedsel en Medisyne goedgekeur. Dis plaaslik nog net te kry as oogdruppels vir gloukoom of drukking in jou oogbal (Allergan Lumigan).

Die wimpers van Lumigan-gebruikers het skielik as newe-effek begin groei. Die vervaardigers het toe bloot die naam en verpakking verander en ‘n kwassie bygesit en bemark dit nou oorsee as ‘n (baie duurder) skoonheidsproduk. Jy kan ná sowat ‘n maand se gebruik resultate begin sien.

Dis belangrik om Latisse versigtig op jou ooglede te smeer. Moenie dat dit in jou oë kom nie – op lang termyn kan dit blou oë na bruin verander! Lumigan kos sowat R300. ‘n Soortgelyke produk, MD Lash Factor (sowat R1 300), is te kry by kosmetiese sentrums (spa’s en salonne waar dokters betrokke is) soos Vivacité Medical Spa (www.vivacite.co.za) in Pretoria. 

Kyk ook uit vir die L’Oréal se nuwe Renewal Lash Serum (R169,95), nog ‘n produk wat wimpergroei stimuleer.