FOTO: Instagram

Ons hou van

Woensdagwenk: Borsel jou lyf vir ’n gesonde vel

Al ooit daarvan gehoor om jou lyf droog te borsel (dry brushing)? Hierdie tegniek kan ’n groot verskil aan die voorkoms van jou vel maak as jy dit gereeld doen, sê Sonette Donker, kommunikasiebestuurder van Dermalogica.

Sonette vertel meer:

Wat is dit?

Jy borsel jou lyf terwyl dit droog is met ’n growwe handskoen of ’n lyfborsel voordat jy bad of stort.

Hoe doen jy dit?

Jy begin by jou enkels en borsel jou lyf sagkens in ’n opwaartse rigting. Dis belangrik om saggies te borsel, want so stimuleer jy jou limfstelsel (hierdie stelsel help om gifstowwe en afvalstowwe te dreineer). Jy moet spesifiek opwaarts borsel omdat jou limf in dié rigting vloei.

Wat is die voordele?

Dit kan die voorkoms van selluliet en waterretensie verminder. Dit help om van dooie selle ontslae te raak sodat jou vel sag is en glad lyk.

Wanneer moet jy jou lyf borsel?

Doen dit elke oggend voordat jy bad of stort sodat jy enige los dooie selle kan afwas.

Hoe lank moet jy dit doen?

’n Paar minute is genoeg. Dit hoef jou nie langer as 5 minute te neem nie.

WENKE

  • Kies ’n borsel met sagte hare of ’n handskoen wat nie te grof is nie.
  • Was jou borsel of handskoene gereeld.