FOTO: Pinterest

FOTO: Pinterest

Ons hou van

Inspirasie uit Griekeland

Om ’n Griekse godin te wees is maklik. Jy moet net die geur en die voorkoms kry. SARIE wys jou hoe.

Velsorg uit Griekeland

Juliette Armand is in 1992 begin deur twee Griekse aptekers, Michalis Papaefstratiou en Ioulia Armagou. Vandag werk Ioulia hard om produkte te ontwikkel wat die verouderingsproses vertraag. Probeer die Skin Boosters Anti-Surgery System-, Elements of Evolution- of Sunfilmreekse om jou vel die glans van ’n Griekse godin te gee.

*Beskikbaar vanaf R290 by uitsoeksalonne en -spa’s.

Glansryke Griekse grimering

Korres is in 1996 in die Griekse stad Athene se heel eerste homeopatiese apteek begin. Die eerste produk was ’n homeopatiese stroop vir ’n seer keel. Vandag is daar meer as 400 Korres-produkte – almal natuurlik en organies. Dié skoonheidshuis se doel is om doeltreffende skoonheidsprodukte van hoë gehalte met Griekse kruie te vervaardig. Die grimering sluit oog- en lipgrimering, blosser en naellak in. Daar is ook parfuums, velsorg- en lyfsorgprodukte. Hou jou grimering vars en natuurlik met ’n ligte tikkie glans om ’n Griekse voorkoms te kry. Onthou om ’n sagte, neutrale skakering op jou lippe te dra.

*Pryse wissel tussen R80 en R550. By uitsoektakke van Edgars.

Vars soos Griekeland

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Berg Olimpus in Griekeland staan vol denne- en sederhoutbome. Die geur van dié bome, saam met seebries en die warm son het Giorgio Armani geïnspireer om ’n vars houtgeur te skep. Armani/Privé Figuier Eden bevat note soos bergamot, wierook, tonkabone en sederblare.

Vlegsels

Nie net is vlegsels een van die seisoen se gewildste tendense nie, dié styl is ook die perfekte manier om die Griekse voorkoms te skep. Jy kan fyn vlegsels aan weerskante van jou kop maak en dit dan agter jou kop vassteek, groot vlegsels wat jy dwars oor jou kop vleg en die res van jou hare vassteek, of selfs die klassieke vlegsel. Kombineer jou vlegsel met ’n opgesteekte styl om die Griekse voorkoms te vervolmaak.