Ons hou van

Woensdagwenk: Kies só tussen ’n lyfvloeiroom, lyfroom en lyfbotter

Jy staan voor die rak by die winkel en soek ’n produk om aan jou lyf te smeer, maar jy word oorweldig deur al die verskillende soorte rome. Hoe kies jy die regte tekstuur vir jou vel se behoeftes?

Lyfvloeiroom (body lotion): Die tekstuur van ’n lyfvloeiroom is baie lig en byna waterig, het ’n lae olie-inhoud en is dus nie olierig op jou vel nie. Dié soort room bevat gewoonlik bestanddele soos alfahidroksisuur en hialuronsuur wat die vog behou wat reeds in jou vel is.
Perfek vir: Die warm somermaande.

Lyfroom (body cream): Dit bevat ook nie baie olie nie, maar ’n lyfroom het ’n dikker tekstuur en is minder vloeibaar as ’n lyfvloeiroom. Dit sorg egter vir meer vog as die vloeiroom.
Perfek vir: Droë seisoene soos herfs en winter.

Lyfbotter (body butter): Dié soort room is die rykste van die drie en het ’n swaar tekstuur. Lyfbotter bevat dikwels bestanddele soos galambotter en natuurlike olies soos jojoba-, klapper- en olyfolie wat ’n laag op jou vel vorm om vog te behou en die vel te beskerm.
Perfek vir: Winter, omdat dit dikwels swaar kan voel op jou vel.