Ons hou van

Woensdagwenk: Ekstra wintersorg vir jou hare

Die wintermaande kruip al nader en dis tyd om ekstra sorg aan jou hare te gee. Ria Gyapersad, kreatiewe direkteur van Glampalm-haartoestelle, gee die volgende wenke:

Jou hare lyk dikwels vaal in die winter. Hoe kan jy dit gesond hou? 

Kouer weer veroorsaak dat jou hare vog verloor en dit lyk dan dikwels leweloos en droog. Wanneer jou hare droog is, breek dit maklik. Daarom is dit belangrik om af en toe ’n ryk haarmasker te gebruik.

Hoe kan jy kroeserigheid voorkom?

As jou hare erg kroeserig is, besoek ’n haarsalon en laat doen ’n behandeling wat jou hare reguit maak (Brazilian blow-dry). Dit sal jou hare vir ten minste drie maande kroesvry hou.

Hoe moet jou haar-roetine in die winter lyk?

Gebruik ’n super-bevogtigende sjampoe – die kleur moet pêrelagtig lyk. As ’n sjampoe helder is, is dit geneig om jou hare uit te droog. Wend daarna ’n bevogtigende masker aan (kyk uit  vir een wat galambotter of avokado-olie bevat) en slaap daarmee vir die beste resultate. Probeer om so min moontlik haartoestelle soos ’n haardroër of -yster te gebruik, want dit stroop die vog van jou hare.

Watter haarstyle is tydloos vir die winter?

Sagte golwe en ’n paar heuningkleurige ligstrepies wat jou haarkleur warmer laat lyk. ’n Hoë poniestert werk ook goed, veral as jy ’n mooi serp dra.

Lees die ander wenke vir vandag hier: