Bodyography in Praline

Bodyography in Praline

Ons hou van

Woensdagwenk: ’n Nude lipstiffie wat by jóú pas

Nude lippe is vanjaar ’n groot skoonheidstendens. Soms is dit moeilik om die regte skakering te vind sonder om bleek te lyk. Hier is wenke om ’n natuurlike lipskakering te kies wat by jóú gelaat pas.

As jy ’n ligte velkleur het, kies nude skakerings met sagpienk of rooskleurige ondertone. Die geheim is om ’n “warmer” kleur op jou lippe te gebruik sodat daar ’n onderskeid tussen jou lippe en jou gesig is. Vir ’n baie wit, melkerige gelaat werk ’n deurskynende skakering goed.

Probeer: Bobbi Brown Lip Colour in Calypso Shimmer (R300), Avon Ultra Colour Rich Lipstick SPF 15 in Blush Nude (R65) of L’Oréal L’Extraordinaire by Color Riche in Nude Vibrato (R150)

Wenk: Maak seker jou lippe is goed bevog voordat jy jou nude lipstiffie aanwend sodat jou lippe nie droog en skilferig lyk nie.

Kies ook die regte rooi vir jou lippe só

’n Olyfkleurige gelaat kan byna enige skakering van nude dra. Mik tog eerder vir skakerings wat donkerder is as jou vel. Warm skakerings met karamel ondertone en ’n tikkie brons lyk mooi op dié gelaatskleur. Komplementeer ’n bruingebrande vel met ’n nude lipglans.

Probeer: Maybelline ColorSensational Shine Gloss in Coffee Kiss (R110), Rimmel Lasting Finish Colour Rush in Drive Me Nude (R100), Michael Kors Lip Luster in Muse (R295)

Wenk: As jy ’n natuurlike voorkoms vir jou lippe kies, beklemtoon dan jou oë met helderkleurige oogskadu of ’n rokerige voorkoms.

Vir donkerder gelaatskleure is dit beter om ’n roserige nude skakering te kies wat ligter as jou vel is. Vermy skakerings met beige of grys ondertone. ’n Produk met natuurlike glans lyk ook altyd mooi by donker gelaatskleure.

Probeer: Estée Lauder Pure Color Long Lasting Lipstick in Barely Nude (R295), Bodyography in Praline (R195), Gosh Kiss Me! Moisturising Lip Balm in Innocent Kiss (R100)

Wenk: As jy vinnig ’n nude lipstiffie moet kies, toets ’n skakering deur dit net in die middel van jou lip aan te wend, stel die bekende grimeerkunstenaar Bobbi Brown voor.“As die kleur verdwyn, is dit die regte kleur. As dit aangeplak lyk, is die kleur te lig en as dit oranje voorkom, is die kleur te donker.”

Kry intense kleur vir jou lippe met dié lipstiffie!