FOTO: Nioxin

FOTO: Nioxin

Ons hou van

Woensdagwenk: Nuwe haarwas-neiging vir ekstra volume

Toe die skoonheidspan ’n aanlyn-artikel lees oor ’n unieke manier om jou hare te was, wou ons dit onmiddellik uittoets. Die sogenaamde ‘omgekeerde haarwas’ is nou glo ’n groot neiging en beloof hare met meer volume.

Dit behels dat jy eers opknapper op jou hare gebruik en dit daarna met sjampoe was.

Wanneer jy opknapper gebruik nadat jy jou hare gewas het, is dit moeilik om al die opknapper uit jou hare te spoel. Die oorblyfsel laat jou hare dan plat lyk, volgens die skrywer van die artikel. Maar as jy eers jou opknapper aanwend en daarna jou hare was, bly daar geen oorblyfsel agter nie en jou hare is ligter en voller.

SARIE se skoonheidsredakteur en skoonheidsassistent het hierdie metode beproef. . .

Charis Labuschagne, skoonheidsredakteur:
My hare is altyd plat. Dit is ongelukkig een van die probleme met fyn, reguit hare. Die omgekeerde haarwas-metode het vir my sin gemaak. Die meeste opknappers wat ek al gebruik het, het te swaar vir my hare gevoel en dit was ook geneig om my hare vinnig olierig te laat lyk. Dit is hoekom ek my hare elke dag moet was. Ek het die afgelope ses dae my hare ‘andersom’ gewas. Dit definitief meer volume gehad én dit was nie nodig om dit daagliks te was nie. My hare het egter meer statiese elektrisiteit gehad, maar dis ’n klein prys om te betaal.

Liesl du Toit, skoonheidsassistent:

Ek het ’n fyn haartekstuur, maar het ook natuurlike golwe. Op die oomblik sukkel ek met droë hare en ongelukkig het dié wenk nie vir my haartipe gewerk nie. Ná ek my hare eers met my opknapper en toe die sjampoe gewas het, was dit meer kroeserig en moes ek ’n olie aanwend om dit gladder te maak. Ek sou dit nie aanbeveel vir iemand wat dieselfde haartipe as ek het nie.