FOTO: Elmari de Vos

Ons hou van

Woensdagwenk: Vol snorre, gladde baarde vir Movember

Hierdie maand is Movember, wat beteken mans wêreldwyd groei snorre om bewustheid oor gesondheidskwessies soos prostaat- en testikulêre kanker te skep. Ons deel ’n paar skeer-wenke vir die man in jou lewe

Sonette Donker, kommunikasiebestuurder by Dermalogica, gee raad sodat die man in jou lewe sy baard maklik kan glad skeer terwyl hy sy snor groei.

Mans kry ingroei-hare en knoppies weens ontsteking as gevolg van haartjies wat sukkel om deur die vel-oppervlak en dooie selle te breek. Met die regte voorsorg (én nasorg) kan hy hierdie probleem voorkom.

Sonette se top-wenke

  1. Vroeg in die oggend is daar baie vog in ons vel. Dan kry mans nie hul gesighare die kortste moontlik geskeer nie en word die baard meer sigbaar sodra sy liggaam die water verwerk het. Baarde moet daarom eerder in die aand geskeer word.
  2. Stort eers om baardhare sag te maak.
  3. Was jou gesig met ’n pH-gebalanseerde reiniger om te pas by die pH van jou vel (pH 4,5 – 5,5).
  4. Verwyder dooie velletjies deur twee tot drie keer per week ’n afskilferingsproduk te gebruik. Dan kom die haartjie makliker deur die porieë.
  5. Gebruik ’n skeermiddel sonder alkohol en parfuum, want dit kan vel irriteer en selfs pigmentasie veroorsaak.
  6. Skeer in die rigting wat die hare groei. Dit help om ingroeihare en onnodige irritasie te vermy.
  7. Gebruik ’n produk wat jou vel sal streel nadat jy geskeer het. Kies produkte met plant-ekstrakte en antioksidante.
  8. Maak seker jy hou die lemmetjie heeltemal teen die vel, moenie te hard druk nie en spoel die lemmetjie gereeld in warm water af.
  9. Wend altyd ’n vogroom aan voordat jy gaan slaap en kort ná jy gestort het om die vog in jou vel te sit. Onthou, hoe meer vog in jou vel is, hoe gesonder is jou vel!
FOTO: Elmari de Vos

FOTO: Elmari de Vos

Fanie Cronjé se Skeer 101 vir Movember

Vir ’n gladde skeer sonder vel-irritasies is die beste wenk om saans in die stort of bad dié deel van jou vel waar jou baard groei, met skroproom te behandel. Daar is vandag skropprodukte wat spesiaal vir jou skeerroetine ontwikkel is. Dit voorkom ingroei-hare.

Die volgende oggend kan jy ʼn warm, klam handdoek of waslap hou oor die area wat geskeer moet word. Ek hou dit daar totdat die handdoek begin afkoel.

Wend die skeerroom van jou keuse teen die grein van die baard aan om die hare te laat regop staan. Ek laat die stoppel van die baard deur die skeerroom uitsteek. Skeer met een haal saam met die grein van die baard. Probeer om nie te veel hale oor dieselfde deel te skeer nie. Spoel jou baard af met koue water en gebruik ’n naskeermiddel.

Vermy liewer produkte met  ʼn alkoholbasis, want dit kan ’n sensitiewe vel onnodig irriteer.