Skoonheidstories

10 skoonheidstruuks met klapperolie

Klapperolie is al ’n hele ruk een van die wêreld se grootste obsessies! En die supermodel Chrissy Teigen het ons onlangs weer herinner aan dié wonderolie se vele voordele toe sy haar beste klapperolie-wenke op Snapchat gedeel het. Ja, selfs in jou skoonheidsroetine verdien klapperolie ’n ereplek. Kyk net wat jy alles met klapperolie kan doen om jou hare, lyf en gesig mooi te hou…

Dié olie is uitstekend om jou hare en lyf te bevog. Dis ’n natuurlike olie (afkomstig van plante) en bevat ’n hoë hoeveelheid omega 3- en 6-vetsure, vitamien E en antioksidante. Dit het ook antibakteriële eienskappe wat dit geskik maak vir vel met ekseem of ’n veluitslag. Boonop is klapperolie solied teen kamertemperatuur, wat maak dat jy dit maklik kan inpak wanneer jy reis. Verhit dit in die mikrogolf of vryf dit tussen jou hande om dit vloeibaar te maak voordat jy dit gebruik.

Chrissy Teigen gebruik selfs klapperolie op haar en John Legend se eersteling, Luna Simone Stephens, se lyfie ná badtyd.

#nofilter

A photo posted by chrissy teigen (@chrissyteigen) on

Vir jou gesig

1. Nagroom

Klapperolie vul jou vel se lipiedlaag aan, wat jou velwand versterk sodat vog nie so maklik ontsnap nie. En die kragtige antioksidante daarin beskerm jou vel teen die skade wat vry radikale deur die dag aanrig. Dit streel ook sensitiewe vel en kalmeer rooiheid en jeukerigheid.

2. Grimeerverwyderaar

Chrissy gebruik klapperolie om hardnekkige grimering soos maskara en oogomlyner in ’n kits te verwyder. Sy sit ’n bietjie klapperolie op ’n watte en vee daarmee oor haar oë. Omdat grimering gewoonlik ’n oliebasis het, bind dit met die klapperolie-molekules en gly maklik van jou gesig af. Lees hiér meer oor oliereinigers vir jou gesig!

3. Verligter

Gebruik klapperolie sommer as ’n verligter deur ’n klein bietjie liggies op jou wangbene en in die binnehoeke van jou oë te tik nadat jy grimeer het vir vel wat lyk of dit van binne gloei.

4. Lipsalf

Skep ’n bietjie klapperolie in ’n klein potjie en dra dit in jou handsak as ’n bevogtigende (en bekostigbare) lipsalf.

Vir jou lyf

5. Vogroom

Net soos vir jou gesig, help klapperolie om jou lyf te bevog en soepel te hou. Smeer dit aan nadat jy gestort of gebad het.

6. Lyfskrop

Meng growwe sout of bruinsuiker met jou klapperolie en gebruik dit as afskilferaar.

7. Om te skeer

Jy kan selfs klapperolie gebruik wanneer jy jou beenhare skeer. Smeer dit aan jou droë bene voor jy skeer, pleks van skeerroom.

8. Kutikelolie

Wend klapperolie aan jou naelvelletjies om dit te versterk en gesond te hou. Vryf ook jou voete met klapperolie in nadat jy dit met ’n voetvyl afgeskuur het. Die antibakteriële eienskappe help om voete gesond en sag te hou.

Vir jou hare

9. Ekstra vog

Die aktrise Blake Lively het al vertel sy wend klapperolie aan haar haarpunte voordat sy dit was. Dan maak sy haar klam hare in ’n bolla vas. Sodra dit droog is, maak sy dit los. Die bietjie olie wat ná die was op haar haarpunte agterbly, sorg vir haar kenmerkende mooi golwe en seël die haarkutikels sodat vog behoue bly.    

En ook…

10. Mondspoelmiddel

Chrissy het ook onthul dat sy klapperolie vir haar honde gee om hul asems lekkerder te laat ruik. Jy kan dit selfs as ’n mondspoelmiddel gebruik! Deur gereeld jou mond vir sowat 10 minute met ’n eetlepel klapperolie en water uit te spoel, verminder jy die opbou van plaak en bakterieë in jou mond. Dit sorg vir gesonder tande en tandvleise en ’n varser asem.

FOTO: Snapchat (Chrissy Teigen)

FOTO: Snapchat (Chrissy Teigen)

Probeer dié skoonheidsprodukte met klapperolie in

Nature’s Choice Coconut Oil (R37 vir 325 g)

OGX Coconut Water Shampoo en Conditioner (R170 elk)

By Dis-Chem en Foschini

Palmer’s Coconut Oil Body Oil (R50)

The Body Shop Coconut Beautifying Oil For Body, Face & Hair (R65)

Tom Ford Soleil Blanc (R2 325 vir 50 ml EDP)

Luukse bederf! Dié parfuum voer jou weg na ’n eiland waar dit heeljaar somer is, met note van klapper, sitrus en ilang-ilang. By uitsoektakke van Edgars en Stuttafords

Bronne: www.usmagazine.com, www.marieclaire.com, www.huffingtonpost.com

Lees nou

VIDEO: Dít is wat vroue regtig wil hê…

5 wenke vir mooier winterhare