FOTO Marin / FreeDigitalPhotos.net

FOTO Marin / FreeDigitalPhotos.net

Skoonheidstories

5 mites oor vullers ontmasker

In ’n wêreld waar ons smag na onmiddellike bevrediging, is dit geen verassing dat estetiese behandelings in die skoonheidswêreld toeneem nie. En volgens dr. Sly Nedic, estetiese dokter en eienaar van 8th Sense-medi-spa in Johannesburg, is estetiese behandelings soos onder meer vullers die antwoord as jy meer dramatiese resultate vinniger wil sien. “Ek vind Suid-Afrikaners is al hoe meer oop om dit te beproef.”

Met vullerbehandelings kan jou vel soos blits jonger en varser lyk. Maar dis belangrik dat jy weet wat om te verwag voordat jy vullers beproef. Hiér word vyf mites oor vullers ontmasker …

Mite 1: Vullerbehandelings is dieselfde as botoks

Die meeste vullers bestaan uit hialuronsuur, ’n stof wat ook natuurlik in jou vel voorkom. Dit word hoofsaaklik gebruik om volume in jou gesig te bou sodat dit voller en plomp lyk (’n verlies aan volume is een van die grootste tekens van veroudering). Botoks word in die gesig ingespuit om spiere tydelik te verswak en plooie en lyntjies te versag. Omdat dit nie soos vullers volume bou nie, werk dit beter vir oppervlakkige lyntjies soos die fronslyn tussen jou oë en die fyn lyne op jou voorkop en rondom jou oë.

Mite 2: Vullerbehandelings is baie seer

Hoewel jy nie niks gaan voel nie, het baie vullers ’n ingeboude verdoofmiddel om pyn te verlig. Sommige dokters wend ook eers ’n verdowingsroom aan op die dele wat baie sensitief is, soos jou lippe en rondom jou mond. Ná die behandeling kan jy dalk vir ’n paar dae rooiheid, kneusing en swelling ervaar, maar gewoonlik nie vir langer as ’n week nie.

Mite 3: Die resultate van vullers is permanent

Die resultate van vullers kan sowat 9 tot 12 maande hou. Die formule los oor tyd op en opvolgbehandelings is nodig.

Mite 4: Ek gaan “oordoen” en onnatuurlik lyk ná ’n vullerbehandeling

Vullers laat jou geensins onherkenbaar lyk nie. Jou vel is eerder gladder, voller, bevog en plomp met ’n gesonde blos. Hoekom lyk party vroue wat vullers gebruik dan so oordoen? Omdat hulle meer vuller laat inspuit as wat nodig is. Dit is jou dokter se verantwoordelikheid om nee te sê as jy vra vir te veel.

Mite 5: Byna enige dokter kan vullerbehandelings doen

Maak altyd seker jy besoek ’n gekwalifiseerde estetiese dokter vir jou vullerbehandelings. Doen vooraf deeglike navorsing oor ’n paar dokters in jou omgewing. Sommige dokters spesialiseer selfs in vullerbehandelings vir sekere dele van jou gesig. As ’n bedrewe dokter die naald in die hand het, behoort die resultate subtiel te wees.

Het jy geweet?

Die aktrise Sharon Stone is ’n voorstander van vullers. Sy het dit in 2001 ná ’n beroerte beproef om die skade aan haar gesig te verbeter en die simmetrie te herstel, want een deel van haar gesig het gehang. “Dit het my nie net gehelp om fisiek te herstel nie, maar ook emosioneel omdat ek weer soos my ou self gelyk het,” het sy verlede jaar by ’n persgeleentheid in Berlyn, Duitsland, gesê.

*Dele van dié artikel het oorspronklik in die September 2015 uitgawe van SARIE verskyn.

Lees nou

Honde kan verstaan wat jy sê!

Kry só ’n goudbruin lyf tuis