Skoonheidstories

5 wenke: Keer dat jou somer-haarkleur vervaag

Tydens die warm somermaande kan faktore soos blootstelling aan die son en sout- en chloorwater jou vars nuwe haarkleur stroop of laat vervaag. Hiér’s ons beste raad:

1. Behandel hare vooraf

Haarkleur wat hou begin reeds voordat jy jou hare kleur. As jou hare gesond en bevog is en genoeg proteïene bevat, sal die kleur wat jy aanwend beter in jou hare inseël. Gee jou hare ’n vog-inspuiting vóór jy jou hare kleur deur ’n bevogtigende masker aan te wend. As jy jou hare in ’n salon laat kleur, vra ook vir ’n beskermende behandeling, soos Olaplex.

2. Kies reg

Gebruik ’n goeiegehalte-sjampoe en -opknapper wat spesifiek geformuleer is om jou haarkleur te onderhou. Kies ook eerder ’n sulfaatvrye sjampoe, want sulfiete is geneig om haarkleur vinniger uit te was.

3. Stort slim

Gewone stortwater bevat dikwels chloor en metale soos yster, koper, nikkel en sink. Dié elemente is van die grootste sondebokke wat jou haarkleur vervaag. Die oplossing? Spoel jou hare in louwarm water af, pleks van vuurwarm water. Baie warm water maak jou haarkutikels oop wat veroorsaak dat vog en jou haarkleur makliker daaruit “lek”. En as jy baie dapper is, is kan jy net voor jy uit die stort klim jou hare met koue water afspoel om die kutikels mooi te seël.

4. Jou hare het óók SBF nodig

Blootstelling aan die son se UV-strale kan jou haarkleur laat vervaag deurdat dit die bindings tussen die keratien-molekules in jou haarskag breek en jou haarkleur laat oksideer. Dit laat ook jou hare swak en bros. Maak seker dat jy in die somermaande haarprodukte gebruik wat UV-filters bevat om jou hare teen die son te beskerm.

 

5. Swem slim

Spoel jou hare af nadat jy in die see of swembad gebaljaar het. Die minerale, soute en swembad-chloor is skadelik vir jou hare. Jy kan ook voor jy gaan swem ’n bietjie haarolie of inbly-opknapper op jou hare aanwend. Dit help dat jou hare minder van die see- of swembadwater absorbeer.

Probeer dié produkte die somer:

Gary Rom True Color Masque (R495)

Gebruik dié masker vóór en ná jy jou hare gekleur het om die kleur te onderhou en hare te voed en bevog. By Gary Rom-haarsalonne

John Frieda Sheer Blonde Highlight Activating Moisturising Shampoo en Conditioner (R110 elk)

Dié sjampoe en opknapper keer onder meer dat jou blonde hare of ligstrepies geel of vaal begin lyk. By Clicks

L’Oréal Professionel Expert Color 10 in 1 Perfecting Multipurpose Spray (R407)

Spuit die sproei in jou klam of droë hare voordat jy tyd in die son deurbring. By uitsoeksalonne

Marc Anthony Grow Long Caffeine Ginseng Leave-In Superfast Vitamin E Booster (R150)

Die inbly-opknapper bevat kafeïen en vitamien E om gesonde haargroei te bevorder. By Dis-Chem

Garnier Ultimate Blends The Sleek Perfector Oil (R150)

Klapperolie help om die haaroppverlak te seël. Spuit dit aan jou hare voor jy gaan swem

Bronne: www.allure.com, www.womenshealthmag.com, www.vogue.com

Lees nou

Gebruik jou velsorgprodukte reg

Die gewildste verloofring lyk só