Skoonheidstories

5 wenke – laat jou grimering langer hou in warm weer

In die somer is jou vel geneig om meer olierig te wees omdat hitte die vervaardiging van sebum aanwakker. Dit beteken ’n gladder vel en daarmee saam grimering wat makliker van jou gesig “afgly”. Sorg dat jou grimering langer in plek bly met dié 5 nuttige wenke.

1.Gebruik ’n basislaag (primer) voordat jy jou onderlaag aanwend, sê Alicia Schutte, opleidingshoof van die grimeerhuis Bobbi Brown. Dit maak jou vel mooi glad sodat jou onderlaag eweredig aanwend. Dit help ook dat die onderlaag op jou vel hou. Kies ’n produk vir jou spesifieke veltipe. As jy met erge olierigheid sukkel, soek ’n basislaag met ’n mat-afwerking (mattifying).

Wenk As jy nie ’n afsonderlike basislaag wil koop nie, soek ’n vogroom met ’n ingeboude basislaag.

@socialbeautify does summer fun with Skin Illusion foundation #showusyourclarins

A photo posted by CLARINS USA (@clarinsnews) on

2. Kies die regte onderlaag. ’n Olievrye onderlaag werk goed in die somer, veral vir ’n olierige vel. As jy ’n droë veltipe het, kan jy steeds dié soort onderlaag gebruik, maak net seker jy bevog jou vel goed voordat jy dit aanwend, sê Alicia.

Wenk Kyk uit vir die woorde oil free en longwear op die onderlaag se verpakking.

3. Wend jou onderlaag met ’n ronde onderlaagborsel (buffing brush) aan. As jy jou vingers gebruik, meng die natuurlike olie op jou vingers met die onderlaag en dít veroorsaak dat die onderlaag nie houkrag het nie. Skakeer (buff) die onderlaag met sirkelbewegings in jou vel in met die borsel, stel Alicia voor.

Wenk Deur die loop van die dag verdwyn onderlaag eerste op jou voorkop, neusbrug en ken. Vee ’n deursigtige poeier met ’n groot grimeerborsel oor dié dele nadat jy jou onderlaag aangewend het om dit langer in plek te hou, is Alicia se raad.

4. Die geheim om blosser langer te laat hou is om twee lae oormekaar aan te wend. As jy ’n droë vel het, skakeer eers ’n roomblosser op die appels van jou wange en daarna ’n poeierbloseer. Vir ’n olierige vel kan jy ’n natuurlike pienk blosser aanwend en ’n verligterpoeier bo-oor tik, sê Alicia.

5. Rond jou grimering soggens af met ’n gesigsproei. Dit gee ekstra vog aan jou vel en set jou grimering vir die dag.  

Probeer dié produkte:

Bobbi Brown Vitamin Enriched Face Base (R795)

’n Vogroom met ’n ingeboude basislaag.

Estée Lauder Double Wear Stay-in-Place Makeup SPF10 (R525)

Dié onderlaag is ontwikkel om onder meer in warm weer lank op jou vel te hou.

Elizabeth Arden Dual End Contoured Foundation Brush (R395)

Gebruik die ronde deel van die borsel om onderlaag in jou vel te skakeer en die kleiner deel om verbloemer onder jou oë en rondom jou neus aan te wend.

L’Oréal Blush Sculpt Trio Contouring Blush in Soft Rosy (R170)

Een blosserpalet met drie verskillende pienk skakerings.

Clarins Fix’ Make-Up (R355)

Verfris en bevog jou vel en hou jou grimering in plek met dié grimeersproei met aalwyn- en wittee-ekstrak.

Lees nou

Kies die regte onderlaag vir jou veltipe

Kry jou somerlyf só