Skoonheidstories

5 wenke vir mooier winterhare

Is jy lief daarvoor om jou hare gereeld uit te blaas of glad te stryk? In die koue seisoen is jy egter nie altyd lus om vroegoggend vir ure voor die spieël te staan en sukkel met jou haarstyl nie. Ons het dié nuttige wenke opgespoor om jou te help om jou uitgeblaasde hare langer vars en vol lewe te hou. Al is dit selfs net ’n dag langer…

Die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, is bekend vir haar glansende uitgeblaasde lokke.

1. Gebruik die regte sjampoe en opknapper

Jou vars uitgeblaasde of gladde hare kan binne ’n paar ure plat en leweloos lyk indien jy haarsorgprodukte gebruik wat te ryk en swaar daarvoor is. Gebruik haarsorg- en stileringsprodukte met ’n ligte tekstuur, wat steeds voedende bestanddele bevat. Oorweeg dit om ’n aanbly-opknapper te gebruik pleks van ’n gewone opknapper wat hare maklik swaarder kan laat voel. Droë olies is ook perfek omdat dit hare intens voed en bevog sonder dat dit jou hare swaar of olierig maak.

2. Maak los jou stywe bolla of poniestert

Wanneer jy jou hare in ’n stywe bolla of poniestert vasmaak, kan jou haarrekkie kinkels in jou hare skep en van jou hare selfs laat breek. Probeer dié wenk: Gebruik ’n haarborsel en borsel al jou hare opwaarts. Draai dan jou hare in ’n los bolla en steek dit vas met haarknippies. As jy dikker hare het, probeer ’n bonkige sagte haarrekkie. Dit voorkom sigbare lyne en kinkels in jou gladde hare en sal dit ’n sagte, golwende voorkoms gee.

3. Maak droë sjampoe jou beste vriend

Droë sjampoe absorbeer oortollige olie op jou kopvel. Daarby skep dit volume by jou haarwortels en gee tekstuur aan die res van jou kroon. Gebruik dit só: Lig ’n smal string hare op ’n keer op en spuit die produk op jou haarwortels. Fokus veral op jou haarlyn en haarpaadjie. Gooi dan jou kop onderstebo en masseer die produk met jou vingers rofweg in jou hare in. As jy fyner hare het, kam jou hare met ’n borsel uit om die produk deur die res van jou hare te versprei en oral volume te skep.

4. Hou jou haarlyn (en hare) droog

Dra ’n sagte katoen-kopband wanneer jy jou gesig was om te voorkom dat jou haarlyn nat word, veral as jy krullerige hare het. Sodra water of selfs jou velsorgprodukte in kontak met jou hare kom, sal dit jou hare kroeserig laat word. Dra ook tussen wasdae ’n stortkappie oor jou hare wanneer jy stort.

5. Hou jou hande weg van jou hare

Draai jy gereeld jou hare om jou vingers? Of verstel jy deur die dag dikwels jou hare? Dié gewoontes kan jou gladde haarstyl ruïneer. Probeer om deur die dag so min as moontlik aan jou hare te vat. Enige olierigheid op jou hande (veral nadat jy handeroom of vogroom aangesmeer het) gaan lê op jou hare sodra jy daaraan vat en kan lei tot kroeserigheid en hare wat vinniger vuil lyk.

Probeer dié haarprodukte

Dove Oxygen Moisture Shampoo en Conditioner (R70 elk)

L’Oréal Paris Elvive Extraordinary Oil (R180)

Schwarzkopf Gliss Hydra Miracle Express-Repair-Conditioner (R70)

Redken Pillow Proof Blow Dry Two Day Extender Oil Absorbing Dry Shampoo (R292). By uitsoeksalonne

Denman Hyflex Vent Brush (R80). By Dis-Chem

Bronne: www.elle.com

Lees nou

Spaar met slim skoonheidswenke

Vakansie: Só kan jy die kinders besig hou