Mood skoonheid afrika
Skoonheidstories

6 skoonheidsvoornemens wat jy nie gaan wil breek nie

Ons almal weet Nuwejaarsvoornemens word gemaak net om dikwels weer verbreek te word. Tog is daar vele skoonheidsgewoontes om aan te leer wat sal help dat jou vel en voorkoms in 2017 gesond en stralend is. Dis ons jaar van mooi- en gesond-wees! En ons glo dié ses skoonheidsvoornemens gaan ons nie wil breek nie.

You can create your own happiness. Start today! #friyay #doubleserum #clarins #happy #happiness #beauty #friday

A photo posted by Clarins South Africa (@clarinssouthafrica) on

#1 Ons sal luister na ons vel

Dis altyd goed om nuwe velsorgprodukte uit te toets. Só ontdek jy wat die beste vir jou vel werk. Wees net versigtig vir té veel en té vinnig. Dit neem jou vel gewoonlik ’n paar weke om gewoond te raak aan ’n nuwe velsorgproduk. Probeer daarom ’n nuwe produk vir minstens twee tot drie maande voordat jy besluit om oor te skakel na ’n ander een. Maar enige produk wat jou vel rooi of branderig laat voel, moet dadelik gestaak word.

#2 Ons sal waag met lipstiffie

Baie van ons weet wat vir ons werk en hou daarby. Tog het ons besluit om vanjaar uit ons grimering-gemaksones te breek en rond te speel met opwindende lipstiffieskakerings. Helderrooi, roesbruin, pers, of selfs swart – interessante lipstiffieskakerings was nog nooit so gewild soos nou nie. Jy kan selfs lipkuns probeer …

 

For sugar plum perfect lips: #LipstickEnvy Lip Potion in Savage Garden. Shop now with the link in our bio.

 

A photo posted by Estée Lauder (@esteelauder) on

#3 Ons sal ou grimering weggooi

Terwyl jy besig is om te eksperimenteer, is dit die perfekte geleentheid om jou grimering uit te sorteer en ou produkte uit te gooi. Let op na die vervaldatums van jou skoonheidsprodukte, veral na dié van maskara, jel- en vloeibare oogomlyners, onderlae en sonskerm, omdat dié produkte gewoonlik die vinnigste verval. Jy kan ook produkte wat jy byna nooit gebruik nie weggee aan vriende en familie of dit aan liefdadigheid skenk.

#4 Ons sal ons grimeerborsels was

Grimeerborsels wat gereeld gebruik word, kan vinnig vuil word en rooiheid, jeukerigheid en selfs ’n veluitslag veroorsaak. Kweek die gewoonte aan om jou grimeerborsels gereeld te was. Dis vinnig en maklik, dit hou jou grimeerborsels silwerskoon en sorg dat jou borsels langer hou. Hiér wys ons jou hoe om jou grimeerborsels in ’n kits te was.

#5 Ons sal ons vel van binne ook voed

Onthou om vanjaar nie net gereeld ’n goeie velsorgroetine te volg nie, maar ook jou vel (en liggaam) van binne te voed met wat jy eet en drink. Voedselsoorte soos groente, vrugte, vars vis en neute bevat waardevolle voedingstowwe wat jou vel se natuurlike kollageenvervaardiging aanvul en sorg vir ’n jeugdige gloed. Probeer dié drankies om jou vel se gesondheid ’n hupstoot te gee.

#6 Ons sal daagliks sonskerm gebruik

’n Goeie sonskerm vir jou gesig is jou belangrikste wapen teen vroeë veroudering. Besluit vandag nog om daagliks ’n sonskerm met ’n SBF van minstens 30 aan te wend. Jou vel sal dankie sê!

 

Lees nou

Sorteer só jou huis kamer vir kamer uit

Leandie: dié 7 gewoontes help my só lyk