skoonheid moroccanoil hare haarsorg haarstilis mood

FOTO Instagram (@moroccanoil)

Skoonheidstories

8 gewoontes wat haarkenners wens jy wil breek

Ons almal begeer gesonde, glansende lokke! Maar sommige daaglikse haargewoontes kan op die lange duur jou hare baie meer beskadig as wat jy besef. Ons het dié interessante artikel op die tydskrif Allure se webtuiste ontdek waarin verskeie Amerikaanse haarstileerders die één haargewoonte uitsonder wat hulle wens hul kliënte – waaronder ’n hele paar bekendes – wil breek.

5 dinge wat verkeerd gaan met gebak, plus hoekom!

Ons het besluit ons moet net hul wenke deel en het ook ’n paar plaaslike kenners se raad gevra …

1. Jy stileer jou hare met ’n haaryster terwyl dit nog klam is

Wanneer jy jou hare met ’n haaryster of krultang stileer terwyl dit nog effens nat of klam is, rig dit meer skade aan omdat nat hare swakker as droë hare is. Die groter temperatuurverskil, dié tussen jou klam hare en die warm haaryster, kan daartoe lei dat die yster jou hare brand. As jou hare nog plek-plek koel voel nadat jy dit drooggeblaas het, beteken dit dis nog nie heeltemal droog nie.

2. Jy borsel jou nat hare met die verkeerde haarborsel

Gebruik ’n wyetand-kam om jou nat hare uit te kam, pleks van ’n gewone haarborsel. Dit trek minder aan jou hare sodat dit nie breek nie. Dit verminder ook kroeserigheid en gesplete punte.

3. Jy borsel jou hare van wortel tot punt

Die meeste van ons begin by ons haarwortels kam en beweeg dan na die haarpunte toe. Begin eerder by jou haarpunte en beweeg opwaarts na jou haarwortels (terwyl jy steeds van bo na onder kam). So verwyder jy eers enige koeke by jou haarpunte en verminder op dié manier die spanning op jou middellengtes.

Begin eerder by jou haarpunte en beweeg opwaarts na jou haarwortels om die spanning op jou middellengtes te verminder.

4. Jy gebruik die verkeerde sjampoe en opknapper

Die formule en tekstuur van jou haarsorgprodukte maak ’n reuse-verskil aan die toestand van jou hare, sê Cassandra Taylor, haarsorgproduk-bestuurder vir Unilever Africa. “Jou hare kan nie self enige skade daaraan herstel nie. Daarom is dit belangrik dat jy haarsorgprodukte gebruik wat reg geformuleer is om jou unieke haarkwessies aan te spreek.” Hiér help ons jou reg kies!

5. Jy slaap met ’n poniestert

Wanneer jy met jou hare in ’n stywe poniestert slaap, kan jou haarrekkie, soos wat jy deur die nag rondbeweeg, jou hare laat breek.

As jy jou hare uit jou gesig wil hê wanneer jy slaap, vleg dit eerder in ’n los vlegsel wat oor jou skouer hang. En moenie die haarrekkie by die punt van die vlegsel te styf vasmaak nie.

6. Jy hou jou stileringsproduk te naby aan jou kop wanneer jy dit aanspuit

Baie vroue maak die fout om hul haarstileringsproduk te naby aan hul kop te hou wanneer hulle dit aanspuit, sê Matthew Mansoor, plaaslike haarstilis van TRESemmé. In baie gevalle kan dit ’n wit poeierlagie of sigbare kol op jou hare agterlaat omdat die produk op een plek gekonsentreer is en die formule nie ordentlik droogword nie.

“Hou die produk so 18-20 cm weg van jou kopvel wanneer jy dit aanspuit, dan kry jy die beste resultate”, sê Matthew.

7. Jy droog jou nat hare verkeerd af met jou handdoek

Die buitenste deel van jou hare (die haarkutikel) lê soos skubbe glad oormekaar. Gladde haarkutikels weerkaats lig sodat jou hare blink. Wanneer jy jou hare, nadat jy dit gewas het, met ’n handdoek rofweg droog vryf, gaan lê die haarkutikels grof en oneweredig. Druk daarom eerder met die handdoek die water uit jou hare uit, sonder om jou kop onderstebo te gooi.

8. Jy gebruik jou droë sjampoe te veel

Moenie ’n droë sjampoe meer as twee dae ná mekaar gebruik sonder om jou hare te was nie, waarsku Trevenen Bam, plaaslike trigoloog (haarkundige) van die haarsorgreeks Philip Kingsley.

Hoewel ’n droë sjampoe olierigheid absorbeer, verwyder dit nie noodwendig vuilheid nie. Onsuiwerhede en die droë sjampoe se bestanddele kan metteryd opbou en jou kopvel begin uitdroog, irriteer of selfs binne-in die haarfollikels gaan lê en lei tot droë vlokkies of ’n uitslag op jou kopvel.

Lees die volledige artikel op www.allure.com.

Seldsame weerwolfkat in SA gevind… – lees meer!