Skoonheidstories

Adelle se grimeerkunsies

Niemand is perfek nie, selfs nie SARIE se voorbladgesigte nie. Hoe kry jy hulle so mooi afgerond?

Ek glo elke vrou het ietsie moois in haar. Voorblad-vroue is nes ek en jy. Hulle het ook iets waaroor hulle selfbewus voel. Vir my bly die siel en persoonlikheid die mooiste, en as dít mooi is, wys dit altyd in jou oë of glimlag.


Noem een ding wat jou grimeer- en velsorgroetine makliker gemaak het?

Grimering: ’n Goeie verbloemer om oë maak ’n groot verskil. Die ideale een sal nie fyn lyntjies beklemtoon nie. Wees op die uitkyk vir ’n produk wat lig weerkaats (met titanium-dioksied). Wend dan jou daaglikse onderlaag bo-oor aan en jy het magic!

Vel: ’n Goeie gesigskrop met baie vogroom laat jou vel en grimering 50% beter vir jou werk.


Hoe grimeer jy in net 5 minute?

Dis presies hoe lank dit my soggens neem! Ek gebruik my onderlaag (Bobbi Brown Tinted Moisturizer met SBF 15 – R345), ’n rooi of helder lipkleur, en maskara.


Wie inspireer jou grimeerstyl?

Ek is absoluut verlief op Nicole Kidman se grimering in die fliek Moulin Rouge.


Hoe gee jy ’n natuurlike dagvoorkoms ekstra woema?

Ek is mal oor verbronsers en aksentkleure (highlighters). Maar dit moet spaarsamig gebruik word – veral as jou vel heelwat tekstuur het. ’n Blosser is my ander gunsteling. Dit laat jou gesond en lewenslustig lyk. ’n Poeier-blosser kan moeilik wees om aan te wend, veral as jy nie die regte kwasse het nie. Probeer ’n roomblosser of selfs ’n bietjie van jou lipkleur.


Waarvan moet jy wegbly as jy onseker voel?

Bly weg van kleur as jy nie weet hoe om dit reg aan te wend nie. Hou dinge liewer eenvoudig.


Wat is jou skoonheidsfilosofie?

Beauty is in the eye of the beholder. So, jy moet nooit dink jy is nie prentjiemooi nie. Vir iemand daar buite is jy pragtig. Dis net soos wyn proe, vir jou is dit die lekkerste wyn nog! Vir iemand anders is dit dalk swembadsuur.

 

In Adelle se grimeersakkie:

1. L’Oréal Telescopic Mascara (R134,95) “Die kleur is ’n diep donkerswart en jou wimpers word elkeenapart gedefinieer.”

YSL Touche Éclat Radiant Touch

2. YSL Touche Éclat Radiant Touch (R420) “’n Verbloemer met ’n delikate tekstuur wat lig weerkaats en nie lyntjies sigbaar maak nie.” (Eksklusief by Edgars.)

Kanebo Sensai Silk Softening Lotion (Moist)

 3. Kanebo Sensai Silk Softening Lotion (Moist) (R620) “Dis soos ’n vog-inspuiting vir jou vel.”

M.A.C Eye Kohl in Smoulder

4. M.A.C Eye Kohl in Smoulder (R120) “’n Lekker sagte potlood vir die binnekant van jou oë. Ook ideaal om rokerige oë te skep.”

(Leer stap vir stap die geheim van rokerige oë.)