Skoonheidstories

Jou SARIE-gids: Alles oor grimeerborsels

Vee, skakeer, tik. Grimering is ’n stukkie kuns en vir dié tegnieke het jy die regte borsels nodig. Hiér is jou volledige SARIE-gids vir grimeerborsels. Ons kies vir jou die beste …

Moet-hê grimeerborsels:

Dié grimeerborsels is ’n moet-hê vir enige grimeersakkie.

Blosserborsel – Kies een met ’n skuins hoek omdat jy dit ook vir verbronser en verligter kan gebruik.

Poeierborsel – As jy gereeld ’n los poeiergrimering gebruik, belê in ’n poeierborsel met ’n groot kop. Dit help dat die poeier meer eweredig aanwend.

Oogskadu-borsels – ’n Wye verskeidenheid oogskadu-borsels is beskikbaar, maar as jy net een moet kies, kry een met ’n plat punt. Hierdie borsel werk goed vir elke deel van jou oog en is ook ideaal vir romerige oogskadu.

grimeerborsels

Ander grimeerborsels:

Dié grimeerborsels is dalk nie die eerste borsels wat jy sal kies nie, maar as jy ernstig is oor grimering is dit ’n moet.

Onderlaagborsel – As jy hou van volledige bedekking is ’n plat onderlaagborsel nodig. Dit help om jou vel goed te bedek sonder dat dit onnatuurlik lyk.

Waaierborsel – Gebruik dié borsel om grimeerpoeier aan te wend. Deur dit in vinnige sirkelbewegings oor jou gesig te beweeg nadat jy onderlaag aangewend het, gaan dit lyk asof jou vel ge-airbrush is.

Verbloemerborsel – ’n Plat verbloemerborsel maak dit maklik om die produk glad en egalig aan te wend, terwyl die dun punt by die moeilike dele bykom, soos rondom jou neusvleuels.

Oogomlynborsel – Die borsel maak dit maklik om omlyner perfek aan te wend, veral jel-omlyner. Jy kan die borsel ook gebruik om oogpotlood te skakeer (smudge) en jou wenkbroue in te kleur.

Lipkwassie – Skaf hierdie borsel aan as jy gereeld donkerder lipstiffie skakerings soos rooi en bessie dra. Dis net makliker om diep kleure netjies en perfek met ’n kwassie aan te wend.

Probeer dié borsels:

Blosserborsel: Inglot Makeup Brush 3P (R399)

Poeierborsel: Real Techniques Powder Brush (R230)

By Clicks

Plat oogskadu-borsel: Essence Eyeshadow Brush (R27)

By Dis-Chem

Ronde oogskadu-borsel: Smashbox Crease Brush (R390)

Onderlaagborsel: Avon Foundation Brush (R100)

Skakel 0860 102 345

Waaierborsel: NYX Pro Brush Collection Fan Brush (R360)

By Clicks

Verbloemerborsel: Bobbi Brown Concealer Blending Brush (R350)

Oogomlynborsel: Estée Lauder Eyeliner/Brow Brush 20 (R435)

Lipkwassie: M.A.C 316 Lip Brush (R230)

Lees nou

5 dinge wat jy moet weet voor jy haarkapper toe gaan

Lesersvraag: Als wat jy wil weet oor ‘primers’