Skoonheidstories

Altyd jonk: Kenners praat oor botox, antwoord vrae

Botox is verreweg die gewildste kosmetiese prosedure, met vullers tweede. ’n Kombinasie van dié twee kan tot tien jaar van jou gesig aftrek, sê dr. Maureen Allem, kosmetiese praktisyn van Johannesburg. Onder meer ingrypende prosedures kraai liposuiging (vetafsuiging) en borsvergrotings koning.

In jou Maart-SARIE gesels vier “mooimaak”-dokters wat al jou vrae beantwoord. Wie weet, dalk verdwyn jóú vrees.

“Ongelukkig kies sommige praktisyns om pasiënte met grys of vervalste Botox-produkte in te spuit.” – Dr. Izolda Heydenrych (FOTO), dermatoloog van Kaapstad

SARIE-leser vra:

1. Almal wat Botox ’n ruk lank gebruik, lyk naderhand byna dieselfde. Is dit maar hoe dit is? Of is dit ’n swak plastiese chirurg/ dokter, of die kombinasie van Botox en vullers wat so fataal is?

Hierdie stelling omvat alles waaraan ek nie glo nie. Elke gesig het unieke gelaatstrekke wat ten beste benut moet word. By ons dermatologie-sentrum is veelvuldige behandelingsmetodes beskikbaar. Ons neem jou gelaatstrekke (features) en die elastisiteit en tekstuur van jou vel in ag. Die oog wat jou voorkoms beoordeel, is uiteraard baie belangrik. Ons praat van “combineese” – ’n kombinasie van prosedures (soos Botox en vullers), laser en goeie tuisversorging. Wees bedag daarop dat die vullers jou vel ’n bietjie kan kneus.

  • Botox: vanaf R1 700
  • Vullers: vanaf R3 800

2. Daar is glo nagemaakte Botox beskikbaar. Hoe weet ek ek kry die ware Jakob?
Ongelukkig is daar soms praktisyns wat pasiënte met grys of vervalste produkte inspuit. Die oorspronklike Botox-ampule het ’n hologram op, en jy kan vra om dit te sien.

3. Wat is die belangrikste: ’n goeie velsorgroetine met middelmatige produkte, of ’n swak roetine met duur produkte?
Rome is deel van ’n proaktiewe voorkomingsprogram. Die slimste en doeltreffendste bestanddele is nie noodwendig die duurste nie. Maar ek stem beslis vir roetine as dit sonbeskerming insluit. Altesame 85% van veroudering is weens die skade deur omgewingsfaktore, waarvan die son se ultravioletstrale die grootste sondaar is.

Wat is die opwindendste onlangse deurbraak in teenveroudering?
Met gefokusde ultraklank (ultherapy) word die skede om die spier gestimuleer om saam te trek en sodoende sakkerigheid (sagging) te verbeter en te voorkom. Dit sal uiteraard nooit plastiese chirurgie kan vervang nie, maar kan ’n baie groot voorkomende uitwerking hê en jou kaaklyn se definisie aansienlik verbeter. Dit kan ook op ander plekke op jou gesig gedoen word.

  • Vanaf R15 000

Nog ’n deurbraak is kriolipolise. Dis geskik vir die verwydering van onooglike vet op spesifieke plekke, soos ’n magie, heup-handvatsels en bra-uitbollings. Die vetselle word onder die vel gevries, gaan dood en word later uitgeskei. Dis net “effens ongemaklik” en kan ’n paar dae lank ’n bietjie rooi en gekneus wees.

  • Vanaf R11 000

Wat sal jy nooit doen nie, of wat sal jy jou vriende afraai om te doen?
Op ’n sonbed lê!

Kontak: 021 552 7220, adminh@capederm.co.za