sr0902anneline30s_05
Skoonheidstories

Anneline Kriel praat oor skoonheid in haar 30’s

IN HAAR 30’S

Anneline trou op 25 met die magnaat Sol Kerzner.  

In haar 30’s maak sy ’n plaat, He took off my Romeos, en pryk in ’n baaibroek, elektriese blou baadjie en blou stewels op die omslag. Mense kla sy raak nou volksvreemd en bespiegel oor wat ’n Romeo nou eintlik is!

Sy en Sol skei ook. En sy trou weer, met die miljoenêr Philip Tucker. Hulle het twee kinders: Tayla (19) en Witney (18). Ook dié huwelik beland in die skeihof.

“Maar my laat 20’s en 30’s was tog van die beste jare van my lewe,” sê Anneline. “Daar was só baie geleenthede en ’n mens is emosioneel meer weerbaar om dit aan te gryp. Jy het immers al die hang-ups van jou 20’s agtergelaat. Ja, ek het seker nie altyd die regte besluite geneem nie. Maar ten minste het ek alles probeer wat oor my pad gekom het.”

In dié tyd is haar hare die een groot verandering aan haar voorkoms. Die tuimelende krulle, só kenmerkend van haar skoonheidskoningin-dae, begin al hoe meer plek maak vir ’n reguit styl.

Sy kan haar elektriese krullers, in haar 20’s altyd binne reikafstand, wegpak. Dit het haar haarpunte beskadig en sy maak nou haar hare natuurlik droog: Kop onderstebo met ’n groot handdoek en dan kam sy dit terug. Sy gebruik net salonprodukte.

Haar grimering raak ook meer natuurlik. Die 70’s was sinoniem met uitspattige reënboogkleure bokant jou oë. Haar buisie blou jel-oogskaduwee was dan ook by baie skoonheidswedstryde ’n staatmaker. Maar vroeg in haar 30’s maak Anneline ’n TV-advertensie vir die Italiaanse bier Peroni. Sy hou van die grys en bruin kleure wat die grimeerkunstenaar op haar ooglede en wenkbroue gebruik en sy doen dit daarna ook só.

“Grimering vir TV-advertensies is baie presies en noukeurig. Ek het geleer om aandag aan detail te gee: Om bv. ’n lip-potlood te gebruik en lipstiffie daarbinne aan te wend, en om ooggrimering met ’n borseltjie te smeer om die lyne te versag.”

Sy stel haar eie klerereeks met sonbrille, handsakke en skoene bekend, en ook ’n reeks skoonheidsprodukte, Bare Essence (dis nie meer op die mark nie). Die bestanddele was so natuurlik moontlik. Natuurlikheid was nog altyd vir Anneline belangrik.

“Ek het bv. net een keer in my lewe vals naels laat aansit, toe ek met Sol getroud was,” sê sy.

Sprankelend voor die kameraSprankelend voor die kamera

Nou word lyntjies sigbaarder en geringe sonvlekke kan begin pla  

“Sommige vroue sukkel steeds met aknee, maar nou is dit meestal hormonale aknee op die ken en nek,” sê dr. Suritha Kruger.

 

Velsorgkenner Stephanie Hugo glo dis tyd om in ’n goeie teenverouderingsreeks te belê, wat in jou vel se spesifieke behoeftes voldoen. “Jou vel se kollageenweefsel, olie- en water-vlakke is nog goed, maar jy kan veranderinge begin raaksien,” sê sy. Die grootste velkommer is steeds dehidrasie – dis ook die eerste teken van veroudering: “’n Klein bietjie ekstra vog, soos ’n serum onder jou vogroom, kan wondere verrig.”

Sover dit grimering betref, is dit nou beter om poeier-onderlae te vermy: “Dit verdik in verkoelde lug en dan kan jou porieë verstop. Dis ook heelwat swaarder as vloeibare onderlaag en jy het minder beheer daaroor,” sê grimeerkunstenaar Algria. Volgens haar moet grimering in jou 30’s bedags ietwat meer gesofistikeerd lyk, terwyl jy steeds saans modeneigings kan volg.

“Kyk maar na Gwyneth Paltrow, sy lyk altyd gesofistikeerd en modern,” sê sy. “Jy kan nie ’n fout maak met ’n neutrale lipkleur en rokerige oë nie – selfs al omlyn jy jou oë net met ’n bietjie kohl.”

  • http://nqpxviwqykwb.com/ czmdoj

    RMYI0t qlnyhrlivhxx, [url=http://ibtadojnjbgv.com/]ibtadojnjbgv[/url], [link=http://sefkereftokx.com/]sefkereftokx[/link], http://zxfvuofklgap.com/