Skoonheidstories

Behandel só twee velsorgkwessies gelyk!

Rooiheid, droogheid, donker vlekke, fyn lyntjies, plooie,’n veluitslag … Daar’s ’n magdom velsorgkwessies en ’n behandelingsproduk vir elk. Maar die meeste van ons sukkel dikwels met méér as een velprobleem op ’n slag. Hiér deel ons slim truuks waarmee jy twee velsorgkwessies gelyk kan takel en só ook ’n ekstra rand of twee spaar.

 

Veluitslag + droogheid

’n Veluitslag word nie noodwendig altyd deur ’n olierige vel veroorsaak nie – hormone of inflammasie weens ’n gedehidreerde vel kan ook ’n rol speel. Kies ’n romerige reiniger. Dit reinig jou vel doeltreffend van onsuiwerhede, terwyl die melkerige tekstuur jou vel sag en bevog laat. Kyk ook uit vir bestanddele soos hialuronsuur, gliserien en seramiede in ’n vogroom. Dit bevog jou vel intens, terwyl die ligte formule nie jou vel sal irriteer of jou porieë verstop en só ’n veluitslag erger maak nie.

Probeer: Clarins Cleansing Milk with Gentian Combination or Oily Skin (R320) of Sorbet Hydro Skin Night Cream (R155, by Clicks)

Donker vlekke + fyn lyntjies

Die ster-bestanddeel vir dié twee velkwessies is vitamien C. Dit help om jou vel te verhelder deur donker vlekke te vervaag. Daarby stimuleer dit ook die vervaardiging van kollageen sodat jou vel plomper lyk met fyn lyntjies en plooie minder sigbaar.

Probeer: Clinique Even Better Clinical Dark Spot Corrector (R635 vir 30 ml) met vitamien C om donker vlekke te vervaag en fyn lyntjies te voorkom of Kiehl’s Turmeric & Cranberry Seed Energizing Radiance Masque (R465) wat borrie bevat om jou vel te verhelder en vry radikale, wat die vorming van plooie versnel, teen te werk.

Rooiheid + droogheid

Vel wat sensitief is, is geneig om maklik rooi, jeukerig en styf te voel. Die belangrikste is om ’n goeie vogroom te kies wat bestanddele soos onder meer vitamien E en B3, groentee en nagblomolie bevat om jou vel te kalmeer en inflammasie te verminder. Om rooiheid te neutraliseer en verbloem is ’n gekleurde basislaag met ’n groen tint ook perfek. Vermy egter basislae met ’n mat-afwerking en kies een wat ekstra bevogtiging vir jou droë vel bied.

Probeer: Eau Thermale Avène Antirougeurs Day Moisturising Protecting Lotion (R240, by Clicks) met strelende suiwer mineraalwater of Eucerin AntiRedness Concealing Day Care SPF 25 (R230) wat ’n hipersensitiewe vel kalmeer en groen pigment bevat om rooiheid teen te werk.

Veluitslag + fyn lyntjies

Navorsing het getoon dat volwasse-aknee by tot 50% van vroue tussen die ouderdom van 20 en 40 gediagnoseer word. Sterk produkte soos wat jy in jou tienerjare gebruik het, is egter nie die antwoord nie. Kyk uit vir velsorgprodukte wat veroudering beveg en ’n ligte konsentrasie salisielsuur, ensieme of klei bevat wat vel afskilfer en onsuiwerhede oplos.

Probeer: Estée Lauder NightWear Plus 3-Minute Detox Mask (R595) en Anti-Oxidant Night Detox Creme (R750 vir 50 ml). Dié nuwe produkte is ontwikkel om jou vel goed skoon te maak, terwyl dit veroudering beveg. Die kleimasker, wat jy net vir drie minute ophou, trek onsuiwerhede uit en die nagroom bevat antioksidante wat velskade snags teenwerk en jou vel ook goed bevog.

Olierigheid + droogheid

Om te sukkel met ’n vel wat olierig én droog is klink dalk soos ’n paradoks. ’n Kombinasievel kan egter olierig wees op jou T-sone en droog op jou wange. Kies ’n reiniger met miselwater – ’n reinigingsformule wat bestaan uit klein olie-molekules (miselle) wat in water voorkom. Vuilheid op jou vel “klou” aan die formule wanneer jy dit gebruik en danksy die olie-molekules is jou vel silwerskoon sonder om droog te voel. Kyk ook uit vir hidrerende vogrome met ’n jeltekstuur.

Probeer: Garnier PureActive Micellar Cleansing Water (R64) wat ook salisielsuur bevat of die ligte jel-formule van Johnson’s Hydration Essentials 2-in-1 Facial Gel/Mask (R60)

Veluitslag + donker vlekke

Vitamien A (ook bekend as retinol) is ’n uitstekende bestanddeel om ’n vel met donker vlekkies wat geneig is tot ’n veluitslag te behandel. Dis ’n goeie behandeling vir aknee omdat dit die vervaardiging van sebum (vel se natuurlike olie) verminder, jou vel liggies afskilfer vir meer glans en ’n gladder tekstuur, én dit help wonde vinniger genees. Daarby verminder dit ook die voorkoms van donker vlekke.

Probeer: Dermalogica Overnight Retinol Repair (R1 350) wat jou vel se vernuwingsproses aanwakker, kollageenproduksie stimuleer en danksy vitamien C ook donker vlekke vervaag, of Neutrogena Visibly Clear Correct & Perfect CC Cream (R100) met salisielsuur wat ’n uitslag takel, terwyl dit ook merkies en donker vlekke verdoesel.

The smartest thing you can do for your skin. #CliniqueSmart

A photo posted by Clinique (@clinique) on

Bronne: www.allure.com, www.totalbeauty.com

Lees nou

Kyk net hoe het dié celebs ’n paar jaar gelede gelyk!

Kardashian-susters mal oor dié SA produk…