Styled by Danny Toua
Skoonheidstories

Blosser vir jou ouderdom + Kies ’n skakering wat jou pas

Die regte blosser hoort in elke vrou se grimeersakkie. Deur net ’n paar sekondes te gebruik om ’n grimeerborsel, gedoop in ’n bietjie blosser, oor jou wange te vee, lyk jou vel opnuut vars en jonk, sê David White, opleidingsbestuurder van Givenchy. Dis veral belangrik nadat jy onderlaag aangewend het, wat jou vel ’n eenvormige voorkoms gee. “Blosser gee weer lewe en dimensie,” sê hy.

In jou 20’s

Dis nou die tyd om met helder kleure te speel, sê Alicia Schutte, grimeerkunstenaar van Bobbi Brown. Wend dit aan op die appel van jou wange om jou jeugdigheid te beklemtoon.

In jou 30’s/40’s

Skakeer die blosser onder jou wangbene na bo vir ’n afgeronde voorkoms, is David se raad. Alicia sê baie vroue verkies ’n meer neutrale kleur soos hulle ouer word, maar dit kan jou vaal laat lyk. “Ons almal het ’n spatsel kleur nodig. Jy kan die neutrale kleur bo-op jou wangbeen aanwend en ’n helder kleur net op die appel van jou wang. Skakeer goed vir ’n natuurlike voorkoms.

Ouer as 50

Ons vel verloor fermheid soos ons ouer word. Gebruik blosser om die illusie van ’n fermer vel te skep, sê David. Skakeer oortollige blosser op jou borsel reg rondom die onderkant van jou kakebeen. Dit sal jou gesig meer gelig laat lyk. Onthou ook dat jou velkleur verander. Sonvlekke maak jou vel donkerder. Vermy dan ’n bruinerige blosser en gebruik eerder ’n pienk een.

blosser

Kies ’n skakering wat pas

As jou vel ’n koel ondertoon het (Jou gelaat is lig en jou wange word maklik pienk wanneer jy bloos.) 

Kies ’n skakering met ’n goue of ligbruin ondertoon. Dit sal jou vel warmer laat lyk.

As jou vel ’n warm ondertoon het (Jou vel lyk gelerig en jy brand bruin in die son eerder as rooi.)

Kies ’n pienk skakering. ’n Blosser met ’n warm ondertoon soos bruin of goud sal jou vel te geel laat lyk.

Steeds onseker?

Kies ’n bruinpienk skakering. Dit pas by die meeste vroue, sê David White van Givenchy.

Wat van koraalkleurige blosser?

Dit werk die beste by ’n jonger vel. As jy lipstiffie daarby dra, sorg dat dit ook ’n koraalkleur is.

 

Nóg oor blosser