FOTO Instagram (@kateupton)

FOTO Instagram (@kateupton)

Skoonheidstories

Breek dié 5 grimeerreëls!

Wend altyd jou onderlaag eerste aan en moet nooit blosser en verbronser saam dra nie … Basta met ou grimeerreëls! Probeer dié nuwe grimeerwenke en lyk op jou mooiste.

Reël #1: Wend altyd eers onderlaag aan vóór enige van jou ander grimering

Breek dit so: Jou onderlaag hoef nie noodwendig die eerste stap in jou grimeerroetine te wees nie …

• Wend eers ’n basislaag aan om lyntjies en porieë in te vul vir ’n egalige veltekstuur.

• Skep ’n vel wat straal deur eers ’n verligter liggies oor jou hele gesig aan te wend voordat jy jou onderlaag aanwend; dit lyk dan of jou vel van binne gloei.

• Wend sommer ook al jou ooggrimering eerste aan (tik net ’n bietjie verbloemer vooraf op jou ooglede), dan kan jy die oogskadu-poeiermerke skoonmaak voor jy jou onderlaag aanwend. Daar’s niks so erg soos om 99% klaar te wees met jou grimering nie en dan val daar poeier op jou wange wat merke los wanneer jy dit wegvee.

Reël #2: Moet nooit blosser en verbronser saam dra nie

Breek dit so: Blosser gee jou wange ’n gesonde gloed, terwyl verbronser jou gesig meer sonbruin laat lyk. En ’n bloesende sonbruin gelaat is nou hoogmode. Die geheim is om jou blosser en verbronser op die regte dele van jou gesig aan te wend en goed te skakeer.

• Gebruik blosser net op die appels van jou wange. Dit is waar ons natuurlik bloos en jy wil dié deel beklemtoon met ’n bietjie kleur.

• Vir net ’n bietjie songlans, veral nou in die winter, tik verbronser met ’n groot ronde grimeerborsel op jou voorkop, wangbene, die brug van jou neus en jou ken.

 

Reël #3: Jou lipomlyner en lipstiffie moet altyd dieselfde kleur wees

Breek dit so: Hoewel dit belangrik is om ’n lipomlyner en lipstiffie in dieselfde skakering te gebruik, hou sommige grimeerkunstenaars daarvan om lippe eers met ’n donkerder skakering lipomlyner te definieer en dan ’n helderder lipstiffiekleur aan te wend, berig die Amerikaanse tydskrif New Beauty aanlyn. Dit laat jou lippe voller en meer gedefinieerd lyk. Maak net seker dat die twee skakerings steeds in dieselfde kleurfamilie is.

 

Reël #4: Wend altyd deursigtige poeier oor jou onderlaag aan

Breek dit so: Baie vroue het die gewoonte om ná onderlaag ook ’n deursigtige poeier oor hul gesig aan te wend. Ons tik ook deursigtige poeier deur die dag aan om ons grimering op te knap en oortollige olie te absorbeer. Maar dit kan aangeplak lyk en jou vel se natuurlike glans verdoesel.

• Gebruik bloot eerder ’n gesigsproei, sê Gerhard Naude, plaaslike grimeerkunstenaar van Bobbi Brown. Spuit nadat jy grimeer het die sproei oor jou gesig om grimering te set, asook deur die dag om jou vel te verfris en ’n gesonde glans te gee.

Reël #5: Vermy bonkige wimpers

Breek dit so: Deesdae maak dikker, bonkige wimpers, soos die model Twiggy dit in die 60’s gedra het, ’n terugkeer. Dis ’n vinnige en maklike manier om jou oë groter en treffend te laat lyk.

• Wanneer jy maskara aanwend, hou die borsel vertikaal en gebruik net die punt om dit aan te wend. Dit sal jou wimperhaartjies meer aan mekaar laat vasklou.

Bronne: www.newbeauty.com

Lees nou

Meryl Streep leer om vals te sing

Nuwe trend: kontoer jou hare!