skoonheid mood
Skoonheidstories

Daagliks mooi in 4 maklike stappe – kies reg vir jóú vel

Serums, basislae, onderlae, BB-rome, CC-rome… Daar is net soveel velprodukte op die rak. Ons help jou kies wat is reg vir jóú

JOU BASIESE VELSORGROETINE

Soveel nuwe gesigprodukte maak hul verskyning dat dit nogal oorweldigend kan wees om die regte kombinasie te kies. ’n Basiese velsorgroetine is natuurlik altyd die belangrikste. Daarna kom die ekstras. Ongeag jou velsoort behoort die volgende deel te wees van jou daaglikse roetine, skryf die internasionale velsorgkenner Paula Begoun in haar boek Don’t Go to the Cosmetics Counter Without Me, 9de uitgawe (R295, beskikbaar by www.paulaschoice.co.za).

’n Produk wat sag reinig

’n Reiniger wat jou vel sag skoonmaak, werk vir alle velsoorte. Vermy reinigers wat jou vel droog laat voel. Soek ’n wateroplosbare reiniger wat nie jou oë irriteer nie.

’n Afskilferaar

Dié produk raak van dooie selle op die veloppervlak ontslae sodat jou vel straal. Dit kan selfs help om verstopte porieë in toom te hou. ’n Produk met AHA (alfahidroksisuur, soos glikol- of melksure) of BHA (betahidroksisuur, ook genoem salisielsuur) is goeie keuses omdat dit jou vel egalig afskilfer. Lees die verpakking, sommige afskilferaars kan jy daagliks gebruik en ander een of twee keer per week.

Vogroom

Wend ’n vogroom in die oggend en die aand aan. ’n Ligte room met ’n waterige of jeltekstuur werk gewoonlik goed vir ’n olierige of kombinasie-vel. Vir ’n droë vel werk ’n dikker, ryker vogroom goed.

’n Sonskerm

Dis belangrik om elke dag van die jaar, winter en somer, beskerming teen die son aan te wend. Sonblootstelling veroorsaak onder meer lyntjies en donker vlekke. Maak seker jy bedek jou vel met ’n produk wat ’n SBF van 30 of hoër het en wat jou vel beskerm teen UVB- én UVA-strale.

velsorgKlik hier om die beste ekstra produkte vir jóú vel te kies:

Serum
Basislaag (primer)
BB-room
CC-room
Onderlaag

 

  • Marié Lubbe

    Liewe Sarie
    Ek is n juffrou wat sport afrig in die middae en ek is baie gestres oor sonskade. Ek verkies om ten minste n faktor 30 daagliks te dra. Maar die probleem is meeste is rome en ek het n sensitiewe olierige vel. So ek lyk heeltyd soos n oliebol as ek sonblok dra.
    Ek het nou n oliereguleerder gekry wat ek oor my sonblok dra, maar ek is bang dat ek gaan sonvlekke brand want die produk is sensitief vir son.
    Enige raad asb? Onthou asb, ek kry n onnie se salaris.