FOTO: Instagram (@reem_acra)

FOTO: Instagram (@reem_acra)

Skoonheidstories

Trou jy? Mooiste hare en grimering

Met die New Yorkse Bruidsmodeweek wat vroeër dié maand plaasgevind het, het die SARIE-skoonheidspan die komende seisoen se groot haar- en grimeertendense vir bruide gaan uitsoek. Maak nie saak wat jou styl is nie, jy sal beslis inspirasie vir jou bruidsvoorkoms hier vind.

Dilemma: Ek hunker nog na my eks

Grimeervoorkoms vir jou groot dag

Byna elke modehuis by dié modeweek het ’n subtiele grimeervoorkoms in sagpienk vir hul modelle gekies. En ons is mal daaroor! Dis romanties en lyk jeugdig tog stylvol op bruide van alle ouderdomme, gelaats- en haarkleure.

Gee jou gelaat ’n douerige afwerking deur ’n vloeibare onderlaag met fyn ligweerkaatsende deeltjies te gebruik.

Voller wenkbroue wat natuurlik lyk – dit is dus nie te veel gepluk nie en die vorm het nie ’n oordrewe boog nie – is waarna jy moet streef. As jy reeds vol wenkbroue het, vul dit liggies in met ’n wenkbroupotlood of probeer ’n wenkbrou-poeier wat ook volume gee.

Kies neutrale skakerings vir jou oë met ligte bloesende wange en ’n pienk of rosige lipglans.

Haarstyl-idees vir jou troudag

Elegante bollas

’n Opstyl soos ’n Franse rol of interessante bolla wat laag agter jou kop vasgemaak is, is tydloos en stylvol.

Vir ’n interessante geknoopte bolla soos hieronder moet jou hare minstens skouerlengte wees. En hope haarsproei en stileringsjel is nodig om dit in plek te hou.

Vir ’n eenvoudige tog klassieke voorkoms, skep ’n bolla in die middel aan die agterkant van jou kop en trek ’n paar haartjies los langs die kant van jou gesig. Dié styl lyk veral mooi saam met ’n lang sluier.


Boheemse golwe met vlegsel-detail

Selfs al het jy ’n kort haarstyl soos ’n bob- of pixie-snit kan jy steeds ’n interessante haarstyl op jou groot dag hê. Ons is mal oor dié gemaklike golwende haarstyl. Gebruik ’n haaryster om sagte golwe in jou hare te skep en vleg rofweg twee vlegsels weerskante van jou kop. En onthou tog ’n stileringsproduk wat tekstuur skep!

Dun fyn vlegsels wat hier en daar in jou hare ingevleg word, lyk boheems en romanties. Dis perfek vir ’n tuin- of strandtroue.

Vir Altyd wys nou oorsee! Gaan kyk dit hiér

Middelpaadjies kraai koning

Middelpaadjies is dié seisoen baie gewild. Tydens die modehuis Marchesa se modevertoning het al die modelle met middelpaadjies en ’n sagte opstyl gespog, met ’n paar haartjies wat by hul ore effens losgetrek was.

Ons hou ook van die agterkant van dié opstyl wat ’n klassieke vlegsel met ’n Franse rol (chignon) kombineer. Vleg bloot jou hare in ’n klassieke vlegsel en steek dan die punt van die vlegsel onder jou hare teen jou kopvel vas met haarknippies. Rond dit af met ’n sterk haarsproei.

 

5 wenke vir hare wat voller lyk