Fotograaf: Ulrich Knoblauch by Supernova; Model: Roxanne by Boss; Hare en grimering: Bernice Dodd by Infidels

Skoonheidstories

Die ABC van afskilfering

Soveel afskilferaars, soveel keuses. Watter een is reg vir jou?

1 Gesigskrop

Hoe dit werk

’n Gesigskrop bevat gewoonlik klein ronde balletjies of korrels wat oor jou vel gly en dooie selle op die heel boonste laag verwyder.  Hoewel dit nie die dieper lae van jou vel bereik nie, laat dit jou vel dadelik gladder lyk.

Waarvoor om uit te kyk

Die produk moet sag op jou vel voel. As dit krapperig of hard voel, beteken dit die korrels is te grof of het skerp

punte. Dit kan jou vel beskadig en vel-irritasie veroorsaak. Gelukkig is daar deesdae min sulke produkte op die rak.

Hoe gebruik jy dit?

Jy gebruik die meeste produkte op ’n nat vel. Vryf dit met ligte sirkelbewegings oor jou gesig vir ’n paar sekondes voordat jy dit afspoel. Vermy die fyn vel rondom jou oë. Dis voldoende om jou vel twee keer ’n week met ’n gesigskrop af te skilfer.

Borsel jou lyf vir ’n gesonde vel

2 Sure

Hoe dit werk

’n Afskilferaar wat sure bevat, het meer voordele as ’n blote gesigskrop omdat dit dieper in jou vel werk. Dit kan byvoorbeeld die vervaardiging van kollageen help stimuleer, donker vlekke beveg en ’n probleemvel takel.

Waarvoor om uit te kyk

AHA staan vir alfahidrokisuur. Dit is afkomstig van plante of melk, hoewel die meeste AHA’s wat in skoonheidsprodukte gebruik word, sinteties is. Die gewildstes wat in afskilferaars gebruik word, sluit in glikoliese suur, melksuur en fitiensuur. AHA’s se groot voordeel is dat dit jou vel help om vog te behou.

Glikoliese suur bevorder verder ook die vervaardiging van kollageen vir ’n fermer vel, terwyl melksuur

die vervaardiging van nuwe selle stimuleer en daarom help om donker vlekke te beveg.

Fitiensuur werk as ’n antioksidant wat jou vel beskerm teen die skade wat vrye radikale aanrig (soos die vorming van fyn lyntjies).

BHA staan vir betahidroksisuur. Dis ook bekend as salisielsuur – dit werk uitstekend as jy ’n probleemvel het omdat dit antibakterieel en anti-inflammatories is. Dit het ook die vermoë om binne-in jou porieë af te skilfer en help so om swartkoppies in bedwang te hou.

Hoe gebruik jy dit?

Die meeste produkte bevat ’n kombinasie van verskillende sure. Sekere produkte kan jy daagliks aanwend nadat jy jou gesig gereinig het. Jy gebruik dan die res van jou gesigprodukte bo-oor. Ander afskilferaars gebruik jy net een of twee keer ’n week en los dit vir ’n rukkie op jou vel voordat jy dit afspoel. Lees die aanwysings van die produk wat jy kies noukeurig.

3 Ensieme

Ensieme soos papaja- en pynappel-ensieme verwyder dooie selle op die veloppervlak en kan ook help om die skade te beperk wat vrye radikale veroorsaak.

Skilfer só stap vir stap af

UIT: SARIE April 2014