Skoonheidstories

Die ABC van vitamiene vir jou vel

Ons weet vitamiene is goed vir ons gesondheid. Nou kry vitamiene ook ál meer aandag in die velsorgwêreld omdat dit nét soveel voordele vir jou vel inhou! Wil jy graag ’n wonder-vitamien deel van jou velsorgroetine maak? Só kies jy die regte een vir jou vel.

8 gewoontes wat haarkenners wens jy wil breek

Elke dag is daar ’n aanslag op jou vel. Die son, wind, koue weer en besoedeling dra alles by tot ’n gelaat wat droog, rooi, sensitief en verouderd lyk. Vitamiene is kragtige velsorgbestanddele wat al dié kwessies kan takel.

Hiér verduidelik Petru van Wyk, velsorgkenner en medeskepper van die velsorgreeks pHformula, die voordele van elk:

Vitamien A

In die kollig omdat … dit uitstekend teen veroudering werk.

(ook bekend as retinol)

Voordele
• Skilfer jou vel liggies af vir meer glans en ’n gladder tekstuur.
• Verminder die voorkoms van donker vlekke.
• Verminder die vervaardiging van sebum (jou vel se natuurlike olie) en is dus ’n goeie behandeling vir aknee.
• Help wonde vinniger genees.

Pasop!
Jy kan aanvanklik newe-effekte ervaar omdat dit so ’n aktiewe bestanddeel is. Jou vel gaan moontlik afskilfer en rooi wees. Gebruik die produk eers so twee keer ’n week saans en vermeerder die gebruik soos wat jou vel daaraan gewoond raak. Nie almal kan vitamien A gebruik nie. Wees versigtig daarvoor as jy ’n sensitiewe vel het, en vermy dit as jy swanger is of sukkel met ekseem.

Vitamien B3

In die kollig omdat … dit ’n kragtige anti-inflammatoriese bestanddeel is wat rooiheid verminder.

(ook bekend as niasienamied)

Voordele
Vanweë anti-inflammatoriese eienskappe verbeter dit velkwessies soos psoriase en rosacea.
• Verminder inflammasie wat veroorsaak word deur aknee.
• Verminder die voorkoms van pigmentasie.
• Behou vog in jou vel.
• Verbeter jou veltekstuur.
• Hou die velwand sterk en gesond omdat dit die vervaardiging van vetsure aanwakker. Jou vel word dan beter teen omgewingsfaktore beskerm.

Gebruik dit só
Gebruik ’n produk met vitamien B3 saans. As jy ook ’n produk met vitamien A wil gebruik, wissel die twee af.

Vitamien C

In die kollig omdat … dit ’n kragtige antioksidant is wat help om jou vel te verhelder deur donker vlekke te vervaag.

Voordele
Stimuleer die vervaardiging van kollageen sodat jou vel plomper lyk.
• Verminder vry radikale wat deur bv. sonblootstelling en besoedeling veroorsaak word. Vry radikale is ’n sneller vir plooie en ’n minder ferm vel.
• Verbeter oneweredige verkleuring sodat jou gelaat helderder lyk.
• Maak jou vel meer bestand teen sonblootstelling.

Pasop!
Vermy vitamien C as jy volwasse aknee het. Vitamien C is pH-sensitief. As jy dus jou vel met ’n produk afskilfer wat sure bevat (bv. melksuur of salisielsuur), wag eers totdat dit goed geabsorbeer het voordat jy ’n produk met vitamien C aanwend.

Vitamien E

In die kollig omdat … dit ’n sterk antioksidant is wat jou vel beskerm en ’n droë vel bevog.

Voordele
Kan energie van ultraviolet-lig (UV) absorbeer om sodoende skade wat die son veroorsaak te beperk.
• Dit hou jou vel bevog.
• As jy reeds in die son gebrand het, kan vitamien E help om rooiheid te verlig.

Hoe kies ek die regte vitamiene vir my vel?

Identifiseer jou grootste velkwessie en kies ’n produk daarvolgens, sê Petru. Gebruik vitamien A vir tekens van veroudering, vitamien B3 vir rooiheid en aknee, vitamien C om vlekke ligter te maak en vitamien E om jou vel te voed en te bevog. As jy verskillende vitamiene wil kombineer, gebruik vitamiene A en B3 saans, en vitamiene C en E soggens. Die produkte is óf as ’n serum óf as ’n vogroom beskikbaar. In die geval van ’n serum, wend dit vóór jou vogroom aan.

 

Which of these #beauty rich #foods do you eat? #phformula #beautyfood #beautytips #skin #skincare

 

A photo posted by pHformula (@phformula) on

Probeer dié velsorgprodukte met vitamiene in:

Vitamien A

Die formule van Environ Debut Face Moisturiser (R298) bevat ’n lae konsentrasie vitamien A, perfek as jy nog nie dié vitamien op jou vel gebruik het nie. By uitsoeksalonne

Vitamien A

Die unieke formule van Exuviance Super Retinol Concentrate (R940) stel retinol stelselmatig vry en werk só langer op jou vel. By uitsoeksalonne

Vitamien B3

Buiten vitamien B3 bevat pHformula Vita B3 24 Hour Cream (R698) ook bevogtigende bestanddele. By uitsoek- estetiese klinieke, of skakel 011 036 9600

Vitamien B3

Die sterbestanddele in Dermalogica Charcoal Rescue Masque (R790) sluit in vitamien B3 en houtskool.

Vitamien C

Vitamien C in Clinique Even Better Clinical Dark Spot Corrector (R450 vir 30ml) help om donker vlekke teen te werk.

Vitamien C

As jy ’n droë of sensitiewe vel het, is Obagi Professional-C 10% Serum (R952) ’n goeie opsie. Skakel iNova Pharmaceuticals by 011 087 0000

Vitamien E

Dié ryk serum het ’n ligte tekstuur wat maklik absorbeer – Placecol Vitamin E Silk Flawless Finish Daily Protector (R370). By Placecol-salonne

Vitamien E

Gebruik Bio-Oil (R73 vir 60 ml), propvol vitamien E-olie, op jou gesig én lyf.

Dra jou kunspels met flair