@karlienvanjaarsveld

SARIE-blogs

Die Gary Rom-blog: Gee jou fyn hare ekstra volume

Bekendes soos Melinda Bam, Karlien van Jaarsveld en Kurt Darren vertrou Gary Rom en sy span met hul hare. Nou blog dié span van Gary Rom Hairdressing vir ons oor alles wat jy moet weet vir die mooiste kapsel!

Sukkel jy om jou fyn hare volume te gee? Laria Stavast, haarstilis by Gary Rom Hairdressing The Grove, gee raad. Vir ’n nuwe haarstyl tot kleurtegnieke en stileringsprodukte … volg dié 5 maklike wenke om jou fyn hare ekstra volume te gee.

1. Pas die styl aan

Hoe korter die haarstyl, hoe voller sal dit lyk. Fyn hare is geneig om vinnig volume te verloor, daarom werk dit goed om ’n paar sagte lae in die boonste deel van jou hare te sny vir ekstra beweging. Maar probeer om die basis van jou haarlyn – die laagste gedeelte van jou hare by jou punte – so vol moontlik te hou. Maak seker dié gedeelte van jou hare is meer solied, so vermy om lae teen die punte van jou hare te sny.

Só het aktrise Kaley Cuoco haar hare kort gesny

2. Gebruik kleur om illusie te skep

Met die regte kleur en kleurtegniek is dit moontlik dat jou hare tot 25% voller en dikker kan lyk. Een manier is om met verskillende skakerings te speel. Dít help om jou hare meer dimensie te gee. Jy kan ook jou hare donkerder by die wortels kleur en ligter maak aan jou punte, soos met ’n ombré.

3. Gebruik die regte tuissorg

Die kombinasie van sjampoe en opknapper is baie belangrik. Koop produkte wat in die behoeftes van jou hare voldoen. Produkte wat gehidroliseerde keratien (hydrolised keratin) bevat, help om jou hare meer volume te gee én voed jou hare.

4. Die regte stileringsprodukte

Min mense gebruik die regte stileringsprodukte. Jy moet altyd ’n produk gebruik om jou hare teen hitte te beskerm – veral op die punte van jou hare. Vir hare wat platval, kan ’n goeie root lifter wondere verrig.

Kies produkte wat volume bou sonder dat die produk op jou kopvel of hare opbou sodat dit later weer platval.

5. Blaas die hare

Blaas jou hare omtrent so 60-70% droog deur net jou vingers te gebruik. Kam jou hare met jou vingerpunte na bó, in die teenoorgestelde rigting waarin jou hare natuurlik val, om dit meer volume te gee en sodoende voller te laat lyk. Daarna maak jy netjiese seksies en blaas seksie vir seksie met ’n ronde borsel droog.

Om die regte grootte borsel vir jou haarlengte te hê, is net so belangrik. Sodra jou hare mooi om die borsel kan vou, is die borsel die regte grootte. Hoe kleiner jou borsel, hoe meer beweging en volume kry jou hare. Laat jou hare om die borsel afkoel sodat dit die vorm van die borsel kan aanneem.

Laria beveel aan

gary rom

  • Die Gary Rom Haircare Hydro Boost-reeks (links) werk goed vir fyn hare omdat dit gehidroliseerde keratien (hydrolised keratin) bevat. Dit voed ook jou hare. Die reeks bestaan uit ’n sjampoe (R235), opknapper (R270) en tuis-behandeling (R345).
  • Die Gary Rom Haircare Foundation Spray (R195) behou jou volume en bou nie op nie.
Laria Stavast

Laria Stavast

 

 

*Laria Stavast is ’n haarstilis by Gary Rom Hairdressing The Grove (012 807 6205)

 

 

Nóg haarwenke van die Gary Rom-span