Skoonheidstories

Die goeie ekstras by jou velsorgroetines

Ons almal weet jou basiese velsorgroetine is baie belangrik, maar dan is daar ook nog serums, basislae, onderlae, BB-rome, CC-rome … Daar is net soveel velprodukte op die rak! Ons help jou kies wat reg is vir jóú.

Serum

Spesifieke probleme word deur ’n serum getakel, soos ’n onegalige velkleur en -tekstuur, en tekens van veroudering. Vandag is dit nie meer ’n luukse nie, maar ’n moet-hê vir jou velsorgroetine, sê Ashley Fernandes, nasionale opleidingsbestuurder van L’Oréal Luxe.

  • Bevat ’n hoër konsentrasie aktiewe bestanddele as vogroom
  • Werk dieper in jou vel as vogroom
  • Wend dit aan vóór jou vogroom
  • Probeer saans ’n serum wat jou vel herstel
  • Wees spaarsamig – verpakking is so ontwerp dat een spuit genoeg is vir jou hele gesig

Basislaag (primer)

Dié produk is iets wat jy nie gaan mis as jy dit nie gebruik nie, maar as jy dit eers probeer het, sal jy nie daarsonder wil wees nie. ’n Basislaag sorg vir ’n ekstra-gladde gelaat sodat jou onderlaag of BB-room mooi vertoon, sê Lauren Engelbrecht, opleidingsbestuurder van Smashbox.

  • Gee jou vel ’n gladde voorkoms deur fyn lyntjies en vergrote porieë te verbloem
  • Sommige formules bevat ook velsorgvoordele en teiken probleme soos pigmentasie, rooiheid, onsuiwerhede en dehidrasie
  • As jy ’n onegalige veltekstuur het, gebruik dit vóór ’n BB- of CC-room of onderlaag

BB-room

Die BB staan vir beauty balm of blemish balm en dié produk het meer as een doel vir jou vel, sê Leila Marx, nasionale opleidingsbestuurder van Estée Lauder.

  • Kombineer velsorg en grimering
  • Die meeste bevog, bedek én behandel jou vel
  • Die meeste bevat ’n sonbeskermingsfaktor (SBF)
  • Sorg meestal vir ligte bedekking, hoewel sekere formules meer bied
  • Dra dit bo-oor of sonder jou vogroom, afhangend of die produk wat jy gebruik, bevog
  • Kies die skakering wat die naaste aan jou velkleur is, want die BB-room sal daarby aanpas

CC-room

As jy sukkel met ’n onegalige velkleur, is ’n CC-room die oplossing. CC staan meestal vir colour correcting en help om jou velkleur egalig te laat vertoon, sê Leila.

  • Korrigeer enige kleur wat verhinder dat jou vel egalig vertoon
  • Die meeste bevat ’n ligte tint wat sorg vir minimale bedekking, maar sommige bied meer bedekking
  • Wend dit aan ná jou vogroom
  • Dra dit alleen of onder ’n BB-room of onderlaag

Onderlaag

Vir voller bedekking is ’n onderlaag steeds die beste keuse. Vandag se formules bevat ook velsorgvoordele, sê Leila.

  • Sorg vir ’n egalige velkleur terwyl dit merkies en vlekkies bedek
  • Die meeste formules bevat ’n SBF en het ook teenverouderingsvoordele
  • Wend dit aan ná jou vogroom, basislaag of CC-room
  • Tik ’n gesigpoeier daaroor om te sorg dat dit langer hou

Maar hoe pas jou basiese velsorgroetine saam met dié ekstras? Lees hier

*Die artikel is in die Januarie 2014-uitgawe van SARIE gepubliseer