FOTO Instagram / @maxfactor

FOTO Instagram / @maxfactor

Skoonheidstories

Dís die maskara op Victoria’s Secret-modelle se wimpers

Dis al ’n week later en die mode- en skoonheidswêreld gons steeds oor die jaarlikse skouspelagtige Victoria’s Secret-modevertoning – waar modelle in sexy onderklere paradeer – wat verlede week in Parys, Frankryk, plaasgevind het. Die SARIE-skoonheidspan is ook opnuut opgewonde omdat ons die truuk agter dié modelle se verleidelike loopplank-wimpers ontdek het. Die beste deel? Dit behels ’n super-bekostigbare maskara!

Net ’n paar dae ná die ikoniese modevertoning het die hoof-grimeerkunstenaar van die vertoning, Tom Pecheux, ’n agter-die-skerms-video op Instagram gedeel waarin hy noukeurig maskara aanwend op een van die Victoria’s Secret Angels, Valery Kaufman, se wimpers.

Kyk hiér na die video:

Tom het ’n splinternuwe maskara van die skoonheidshuis Max Factor, die False Lash Epic Mascara, gebruik om die modelle se wimpers ’n treffende “waaieragtige” voorkoms te gee. Om die voorkoms te kry moet elke wimperhaartjie afsonderlik met maskara bedek word sodat die haartjies vol lyk, maar steeds definisie het.

Só skep Tom Pecheux dié mooi wimpervoorkoms in die video:

* Hy begin deur die maskaraborsel so na as moontlik aan die model se wimperlyn te plaas en dit van links na regs deur haar wimpers te wikkel terwyl hy die borsel deurtrek. So word individuele haartjies van mekaar geskei en elkeen met maskara bedek. Hy herhaal dié proses drie keer vir wimpers met ekstra drama.

* Daarna wend hy ’n paar lagies maskara aan die boonste deel van haar boonste wimpers aan. Soos wat die maskara aan die bokant droogword, trek dit die wimpers op en maak dit ’n mooi krul.

* Laastens gebruik hy die punt van die unieke maskaraborsel – wat spesiaal lang fyn haartjies bevat – om haar wimperhaartjies hier en daar van mekaar te skei vir ekstra definisie.

Die Max Factor False Lash Epic Mascara is van volgende jaar af ook beskikbaar in SA. Ons kan nie wag nie! Probeer intussen Max Factor se Masterpiece Transform High Impact Volumising Mascara in Black (R130), beskikbaar by Clicks.

Lees nou

SARIE se top-foto’s van 2016

Hiér is vanjaar se mooiste celeb haar-transformasies