Skoonheidstories

Die super-velsorgproduk wat vir álles help

Die skoonheidswêreld kan nie uitgepraat raak oor retinol se magdom voordele vir jou vel nie, en tog is baie van ons nog skrikkerig om dié superproduk te gebruik. Moenie wees nie! Dis een van die bestanddele waaroor al die meeste navorsing gedoen is en dit word al dekades lank ontwikkel en verbeter. Boonop is daar nou ál meer bekostigbare retinolprodukte beskikbaar.

Wat is retinol?

Dié kragtige bestanddeel is ’n vorm van vitamien A en het die vermoë om die tempo te versnel waarteen velselle vernuwe word, sodat jou vel stralender en jeugdiger lyk. Só behandel dit alles van fyn lyntjies en plooie tot donker vlekke, aknee, droogheid en selfs ’n sensitiewe vel.

Hoe gebruik jy dit?

Die meeste retinolprodukte is in die vorm van ’n serum of room te kry. Jy kan dit bloot by jou bestaande velsorgroetine voeg en in die aand aanwend nadat jy jou vel gereinig het.

Maar gaan dit nie my vel sensitief maak nie?

Omdat dit ’n baie aktiewe bestanddeel is, kan jou vel in die begin effens rooi en droog wees en selfs sigbaar ’n bietjie afskilfer. Moenie dat dit jou afskrik nie. Gebruik die produk eers net so een of twee keer per week saans totdat jou vel gewoond is daaraan en gebruik dit dan geleidelik meer. Jou vel pas binne omtrent twee weke aan. Om die droogheid teen te werk kan jy in hierdie tyd ’n ryker vogroom en bevogtigende masker oorweeg.

Só help retinol vir byna enige velkwessie:

Vir fyn lyntjies en plooie

Retinol stimuleer kollageenproduksie en versnel die tempo waarteen velselle vernuwe word, sodat jou vel plomper en fermer lyk. Probeer Neutrogena Ageless Intensives Anti-Wrinkle Deep Wrinkle Serum (R180)

Vir ’n gedehidreerde en droë vel

Retinol herstel die vel se hidrasievlakke. Wend ’n ryk vogroom ná jou retinol aan indien dit jou vel aanvanklik droog laat voel. Probeer Environ Original Debut Face Moisturiser (R298). By uitsoeksalonne

Vir pigmentasie

Retinol skilfer die boonste velselle af en help sodoende oor tyd om donker vlekke en pigmentasie ligter te maak. Onthou om altyd deur die dag ’n goeie sonskerm op jou gesig te dra om die vorming van nuwe vlekke te voorkom. Probeer Placecol Illuminé Retinol Serum (R640). By Placecol-salonne

Vir volwasse-aknee

Omdat retinol jou vel afskilfer, verwyder dit ook dooie velselletjies en onsuiwerhede uit jou porieë, wat help om dit kleiner te laat lyk. Probeer L'Oréal Paris Revitalift Magic Blur Instant Skin Smoother (R200)

Vir ’n sensitiewe vel

Retinol kan selfs op ’n sensitiewe vel gebruik word. As jou vel geneig is om rooi en geïrriteerd te wees, kies eerder retinol in ’n room- as serumvorm en gebruik dit net so drie keer per week. Vichy Liftactiv Advanced Filler (R469)

Lees nou

Hiér’s SA se mooiste man!

Die nuwe ster-bestanddeel vir fyn hare