Skoonheidstories

Dís hoekom jy suiker by jou sjampoe moet meng …

Droë sjampoe het die laaste paar jare een van die gewildste skoonheidsprodukte op die rak geword. En met rede: Min ander produkte sal jou haarstyl binne ’n paar sekondes so mooi opkikker soos ’n droë sjampoe.

Maar ons weet almal wat gebeur as jy te veel van ’n goeie ding gebruik … Al hoe meer haarkenners begin waarsku dat die oormatige gebruik van droë sjampoe kan lei tot kopvelprobleme. Skilfers, erge jeukerigheid, haarverlies – dis dalk alles jou droë sjampoe se skuld …

Hoewel ’n droë sjampoe olierigheid absorbeer, verwyder dit nie noodwending vuiligheid nie, het Trevenan Bam, trigoloog (haarkundige) vir die haarsorgreeks Philip Kingsley verlede jaar in ’n onderhoud aan SARIE gesê.

Oor tyd kan onsuiwerhede en sjampoe-oorblyfsels op jou kopvel begin opbou en dit uitdroog en irriteer. Dit kan selfs binne-in die haarfollikels gaan lê en dit verstop, wat tot droë vlokkies of ’n uitslag op jou kopvel kan lei.

Dit beteken egter nie ons moet nou ons droësjampoekannetjies weggooi en weer daagliks ons hare begin was nie.

xoxo #haskhair

A post shared by Hask (@haskhair) on

Wat is dan die oplossing?

Afskilfering! En dis baie eenvoudig: Meng net elke nou en dan wanneer jy jou hare was ’n eetlepel suiker of growwe sout by jou sjampoe en masseer dit in jou hare in, berig die Amerikaanse Marie Claire aanlyn.

Nes met jou vel kan die gereelde afskilfering van jou kopvel met sout- of suikerkorrels help om dooie velselletjies en enige onsuiwerhede en produk-oorblyfsels doeltreffend te verwyder. Die korrels los dan op en was saam met jou sjampoe uit. Buiten dat dit jou hare en kopvel behoorlik skoonmaak, help dit dat jou opknapper beter deur jou hare geabsorbeer word. Dit bevorder ook gesonde haargroei omdat dit die bloedsirkulasie na jou kopvel stimuleer.

Maar pas op: Moet ook nie te veel jou kopvel afskilfer nie omdat dit weer jou hare van natuurlike olies kan stroop en jou kopvel kan uitdroog.

Hoe lyk die ideale haarwas-roetine dan?

“Moenie ’n droë sjampoe meer as twee dae ná mekaar gebruik sonder om jou hare te was nie,” was Trevenen se raad. En as jy vind jou kopvel begin jeukerig en ongemaklik voel, probeer die suiker-afskilferingstruuk.

Dié produkte is spesiaal ontwikkel om jou kopvel af te skilfer:

Lush Big Sea Salt Shampoo (R225)

Dié sjampoe bevat growwe seesout wat jou kopvel afskilfer en jou hare bevog. By Lush-winkels

Hask Charcoal Purifying Deep Conditioner (R55)

Het jy geweet? Houtskool is ’n kragtige reiniger en verwyder vuiligheid en onsuiwerhede doeltreffend uit jou hare. By Clicks

Philip Kingsley Exfoliating Scalp Mask (R226)

As jy gereeld droë sjampoe gebruik, probeer dié voedende haarmasker sowat een keer per week. By uitsoekwinkels van Edgars

Bykomende bronne: www.marieclaire.com, www.nytimes.com

Lees nou

Dit lyk asof dié bekendes hul haarborsels weggegooi het …

Sanger se slim grimeertruuk vir rooi merkies

  • Maria Geyer Shardelow

    was sout nie jou kleur uit nie (haar salonne se altyd as jy kleur moet jy nie sjampoo koop wat sout bevat nie)?