phyllis_44_
Skoonheidstories

Dr. Botox en bekendes gesels oor kosmetiese prosedures

Groei die bedryf van mediese kosmetiese prosedures?
Ja beslis – al vir die afgelope 20 jaar.

Wat is volgens jou die wetenskaplike/mediese definisie van ’n mooi gesig?
Daar is ’n aantal gesigstrekke wat in alle kulture en etniese groepe as ‘aantreklik’ beskou word: ’n Groot, gladde voorkop, kleiner neus, oë wat taamlik wyd uitmekaar sit, prominente wangbene, ’n hartvormige gesigvorm en vol, helderkleurige lippe.

Watter soort kosmetiese prosedures is die meeste in aanvraag?
Daar was die afgelope tien jaar ’n toename in die vraag na behandelings soos Botox, vullers, laser-behandelings en chemiese afskilfering. ’n Kombinasie van behandelings lewer die beste resultate. Verbruikers begin dit ook al hoe meer as voorkomende behandeling gebruik.

Wat is in jou ervaring vroue se grootste motiveerder om dié behandelings te ondergaan?
Hulle doen dit vir hulself: Hulle wil die emosionele en sielkundige voordele ervaar wat daaruit spruit as jy goed lyk. Hulle wil daardie positiewe impak op hul lewe hê.

En wat is volgens jou hierdie impak?
My hoofdoel met kosmetiese behandeling is dat die eindresultaat ’n “wow”-reaksie by die pasiënt moet ontlok. Dit het gewoonlik ’n positiewe emosionele effek op die pasiënt, insluitend meer energie, verhoogde selfvertroue en selfs verbeterings in leefstyl soos om gesonder te eet en te begin oefen.

Dink jy dis deesdae belangriker om mooi te wees as wat dit in vroeëre eras en samelewings was?
Nee, glad nie. Ons was nog altyd behep met skoonheid. Cleopatra het in melk gebad om haar jonk te hou en die voorkoms en tekstuur van haar vel te verbeter. Beeldhouers en kunstenaars probeer nog altyd die volmaakte gesig of menslike vorm vasvang. Al wat gebeur het, is dat spesifieke behandelings nou meer bekend en toeganklik is en teenverouderingbehandelings meer aanvaarbaar is.

Wat sou jou raad wees aan ’n vrou wat kosmetiese chirurgie oorweeg, maar skuldig voel om soveel geld daarop uit te gee en so ’n gesondheidsrisiko te neem net om mooier te kan lyk?
My raad sou wees dat sy na haar innerlike stem moet luister. 

Sal jy ooit ’n voornemende pasiënt wegwys, en hoekom?
Net as die pasiënt onrealistiese verwagtinge het, ’n verwronge liggaamsbeeld het, al te veel prosedures ondergaan het en dit ooglopend is, en as die pasiënt werklik nie teenverouderingsbehandeling nodig het nie. Maar dit is skaars, want ongelukkig begin die verouderingsproses al vroeg in jou lewe.

*Vir meer inligting, gaan na sy webtuiste:www.dralek.co.za

Wat sê die bekendes?

Aktrises teen Botox

Kate Winslet: “Kosmetiese chirurgie is teen my beginsels en ek sal nooit ingee nie.”

Julia Roberts: “Ek wil hê my kinders moet weet wanneer ek gelukkig of ongelukkig is. ‘n Mens se gesig vertel ‘n storie, en dit moet nie een van al jou doktersbesoeke wees nie.”

Rachel Weisz: “Perfekte mense lyk nie noodwendig sexy of baie mooi nie.”

Emma Thompson: “Ek gaan nie aan myself karring nie. Daar’s ‘n aaklige denkpatroon in ons samelewing waar jeug beklemtoon word en almal wat 60 is nou skielik 30 moet lyk.”

  • Linda Swanepoel

    Vir my is botox en kosmetiese prosedures net ‘n tydelike oplossing vir ‘n daaglikse probleem wat groter en groete word. ‘n Gesonde dieet, genoeg oefening, genoeg slaap, genoeg water en tyd vir ontspanning, kan vir ‘n mens die beste uiterlike voorkoms gee wat geen kosmetiese prosedure ooit sal kan reg kry nie. Omdat vandag se mense te lui is vir die natuurlike oplossing, want vir sommige is dit net te veel werk en moeite, sal hulle maklik eerder baie geld uithaal vir ‘n kits oplossing wat net tydelik is. Dit is so jammer dat meeste mense vandag so voel en dink daaroor.

  • Tersia Swanepoel

    Ek stem saam met Linda! Ai, en ons liewe lieflike Afrika son….!