Fotograaf: Ulrich Knoblauch by Supernova; Model: Roxanne by Boss; Hare en grimering: Bernice Dodd by Infidels

Skoonheidstories

Droë olies – wat dit vir jou vel doen

Olie is góéd vir jou vel en hare. Maar deesdae gons die skoonheidswêreld veral oor droë olie … Dís wat droë olie vir jou vel kan beteken.

Vir honderde jare al gebruik ons olie om ons vel en hare gesond en bevog te hou. Vandag is veral haarolies een van die gewildste skoonheidsprodukte én dit raak steeds gewilder. Die afgelope drie jaar het die wêreldwye belangstelling in haarolies reusagtig gegroei, volgens die skoonheidshuis Dove. Deesdae is dit spesifiek droë olies, ook vir jou vel, wat vroue se harte steel – ’n spesiale formule met dieselfde voordele as ’n tradisionele olie, maar met ’n veerligte gevoel.

Anders as vogrome wat vog in die boonste laag van jou vel vasvang, het ’n tradisionele olie die vermoë om met jou vel se lipiedes te meng en jou velwand te versterk, volgens die internasionale velsorghuis La Prairie. Dié lipiedes hou die selle in die boonste deel van jou vel bymekaar (byna soos sement) en voorkom so dat vog ontsnap.

’n Droë olie het die bykomende voordeel dat dit ’n ligter tekstuur het, minder vetterig voel en makliker absorbeer, sê Stephanie Bruno, uitvoerende direkteur van Estée Lauder se korporatiewe geurontwikkeling.

“Danksy die ligter formule gee dit jou vel net ’n sagte glans, eerder as om dit te laat blink.”

Hoe gebruik jy dit?

Jy kan dit direk op jou vel aanwend óf, as jou vel nie baie droog is nie, kan jy dit met jou lyf- of gesigroom meng – perfek vir die somermaande. Sommige lyfprodukte bevat ook blink deeltjies wat jou lyf ’n tikkie glans gee.

Lees hier wat droë olies vir jou hare kan doen