Skoonheidstories

Geur met hoë hakke

Daar is geen beter 
tyd as nóú om passievol oor die lewe en skoonheid te wees nie,” sê Miuccia Prada van dié modehuis wat danksy die boek* en rolprent The Devil Wears Prada ewige sterstatus verkry het.

Haar nuutste skepping, die geur Prada Candy, trek aandag vanweë sy andersheid en oordaad.

Die nuwe Prada Candy

Daniela Andrier, die parfumeur wat aan die geur gewerk het, vertolk die idee agter die geur só: “Die wêreld word vandag gekenmerk deur kompromie, daarom is hierdie geur so oordrewe. Dit het ’n revolusionêre gees.”

Toe Miuccia Prada die familie se Milaanse onderneming in 1978 by haar ma oorgeneem het, was sy vasbeslote om ’n nuwe perspektief na dié mode-huis te bring. Haar plan was om inspirasie uit die beste van die verlede te neem en só unieke ontwerpe vir die toekoms te skep.

Háár modewêreld is ’n plek waar analitiese idees en intuïsie mekaar ontmoet. Teenstellings soos dié is ’n goue draad wat sy deurgaans deur al haar skeppings weef. Miuccia sê idees kom vir haar uit die onmoontlikste plekke – juis die dinge wat sy nie wil doen nie of wat nie as modieus beskou word nie.

Dié aweregse beskouing maak sin 
as jy Prada se geskiedenis in ag neem. 
Haar oupa, Mario, wat die onder-neming in 1913 saam met sy broer begin het, het geglo vroue hoort nie in die sakewêreld nie.

Maar toe stel sy eie seun glad nie in die besigheid belang nie en sy dogter, Luisa, Miuccia se ma, moes hom opvolg. Sy was twintig jaar aan die stuur van sake voordat Miuccia by haar oorgeneem het.

Miuccia self het ’n onwaarskynlike agtergrond vir ’n modeontwerper: Sy het ’n doktorsgraad in politieke wetenskap, was vroeër lid van die Kommunisteparty en ’n kampvegter vir vroueregte, en sy het vyf jaar lank as mimiekkunstenaar gewerk.

Dit verklaar dalk haar benadering tot die modewêreld. Sy vertel sy is altyd besig om nuwe idees oor skoonheid en vroulikheid na te vors en te kyk na die effek wat dit op ons kontemporêre kultuur het. Dis ook hoekom sy glo dis nou die tyd om haar nuutste parfuum, Prada Candy (R820 vir 50 ml EDP), bekend te stel. Dis landwyd by winkels te kry.

Sy het hierdie parfuum geskep met ’n jonger vrou in gedagte en sê die bekoring lê in die oordadigheid van die geur.

“Plesier en bederf lê in oordaad. Daarom bevat hierdie geur ’n balans van hoëgehalte-bestanddele wat in oormatige hoeveelhede gebruik word.”

Dié bestanddele is wit muskus, bensoïen (’n boomgom) en karamel.

[box:full:grey:both]

Meryl Streep se karakter in The Devil Wears Prada is glo op die Amerikaanse Vogue-redakteur, Anna Wintour, gegrond. Daarom het modeontwerpers besluit om nie in die fliek te verskyn nie, maar steeds oorgenoeg klere by te dra. Streep dra meestal Prada, veral skoene, in die prent.

[/box]

Die Franse aktrise en model, Léa Seydoux, in die advertensie

[box:full:red:both]

Om te weet:

* Die Apache-dans was die inspirasie vir Prada Candy se advertensieveldtog.

* Dié dans was in die 30’s 
gewild onder straatbendes 
in Parys. Dis ’n ruwe maar 
fassinerende dans wat die 
primitiewe stryd tussen man 
en vrou uitbeeld.

* “Dis ’n storie oor verleiding, ’n liefdespel. Dis altyd die man wat die vrou lei, maar dié keer het ons die rolle omgeruil,” verduidelik Jean-Paul Goude, regisseur van die advertensie.

[/box]