FOTO: Lisa Sciascia / Gallo Images / Getty Images

FOTO: Lisa Sciascia / Gallo Images / Getty Images

Skoonheidstories

Haarsorgprodukte: Kies só reg vir jou hare

Sukkel jy om haarsorgprodukte te vind wat vir jóú hare werk? Hiér help ons jou  kies!

Die formule en tekstuur van jou haarsorgprodukte maak ’n reuse-verskil aan die toestand van jou hare, sê Cassandra Taylor, haarsorgproduk-bestuurder vir Unilever Africa. “Jou hare kan nie self enige skade daaraan herstel nie. Daarom is dit belangrik om haarsorgprodukte te gebruik wat reg geformuleer is om jou unieke kwessies aan te spreek.”

Gelukkig is daar ’n magdom slim haarsorgprodukte wat jou help om jou lokke gesond en glansend te hou – jy moet net weet hoe om die regte produkte vir jóú haartipe en -kwessies te kies.

Sit is slegter as rook – hier’s ’n oplossing

1. Beskadigde hare

Die probleem: Wanneer jy jou hare blaas, krul, kleur, stryk of bleik, word daar skade aangerig. Mettertyd voel jou hare growwer, breek dit maklik en lyk vaal. Dit kan selfs lei tot haarverlies. As jy jou hare daagliks met hitte stileer en/of gereeld jou hare laat kleur of gaan vir ’n keratien-behandeling om dit tydelik reguit te maak (Brazilian), is die kans groot dat jou hare erg beskadig is.

Jou haarsorg-oplossing: Kyk uit vir haarsorgprodukte wat keratien en proteïene bevat om fisieke en chemiese skade aan jou hare te herstel. Dié produkte is ontwikkel om dieper te penetreer ten einde die haarskag (die binneste deel) én die haarkutikel (die buitenste deel) te voed en het gewoonlik ’n swaar, romerige tekstuur. Oorweeg dit ook om gereeld te gaan vir ’n salon-haarbehandeling wat spesifiek geformuleer is om skade te herstel.

Probeer: Schwarzkopf Gliss Serum Deep-Repair Shampoo en Conditioner (R45 elk) en Schwarzkopf Professional Bonacure Repair Rescue Deep Nourishing Treatment (R280)

skoonheidhare07

Schwarzkopf Professional Bonacure Repair Rescue Deep Nourishing Treatment

2. Droë, krullerige of kroeserige (frizzy) hare

Die probleem: Eksterne faktore soos droë lug, sonblootstelling en humiditeit het ’n groot invloed op hoe droog of kroeserig jou hare is. Daarby is krullerige hare geneig om natuurlik droër te wees as reguit hare. Droë hare het baie gesplete punte, voel grof en kroeserig en breek maklik.

Jou haarsorg-oplossing: Droë hare het voedende olies nodig om die haarkutikel te herstel en te seël sodat vog in jou haarskag behoue bly. Buiten ’n bevogtigende sjampoe en opknapper kan jy tydens die wintermaande ook ’n inbly-opknapper op jou hare aanwend nadat jy dit met ’n handdoek afgedroog het.

Probeer: Dove Advanced Hair Series Pure Care Dry Oil For Dry Dull Hair Shampoo en Conditioner (R70 elk) en Kérastase Discipline Curl Idéal Oléo-Curl Definition and Suppleness Creme (R400, by uitsoeksalonne)

skoonheidhare13

Kérastase Discipline Curl Idéal Oléo-Curl Definition and Suppleness Creme

3. Fyn hare

Die probleem: As jy ’n fyn haartipe het, is die omtrek van elk van een van jou hare dunner as die omtrek van ’n haar van iemand met ’n growwe haartipe. Fyn hare kan maklik plat en leweloos lyk wanneer jy haarsorgprodukte gebruik wat te ryk en swaar daarvoor is.

Jou haarsorg-oplossing: Kyk uit vir haarprodukte met ’n ligte tekstuur, maar wat steeds voedende bestanddele bevat. Oorweeg dit om ’n inbly-opknapper te gebruik pleks van ’n gewone opknapper omdat dit maklik hare swaarder kan laat voel. Droë olies is ook perfek vir fyn hare omdat dit hare intens voed en bevog sonder dat dit jou hare swaar of olierig laat.

Probeer: L’Oréal Paris Elvive Fibrology Thickening Shampoo (R50 vir 250 ml) en Conditioner (R50 vir 200 ml) en Moroccanoil Treatment Light For Fine Or Light-Colored Hair (R470, by uitsoeksalonne)

skoonheidhare12

Moroccanoil Treatment Light For Fine Or Light-Colored Hair

4. Gekleurde hare

Die probleem: Gekleurde hare se grootste uitdaging is gewoonlik om te voorkom dat jou haarkleur mettertyd vervaag en vaal en onnatuurlik lyk. Tydens die kleurproses word jou haarkutikels beskadig, wat veroorsaak dat kleur makliker “uitloop” sodra jy jou hare was. Gereelde hittestilering en blootstelling aan die son se UV-strale laat ook jou haarkleur vinnig vervaag.

Jou haarsorg-oplossing: Verleng die tyd tussen haarwasdae deur ’n droë sjampoe te gebruik. Gebruik ’n kleursjampoe en -opknapper om jou haarkleur te onderhou en verfris en kyk uit vir haarsorgprodukte wat beskerming teen UV-strale bied.

Probeer: Pantene Pro-V Coloured Hair Repair & Shine Shampoo en Conditioner (R43 elk) en TRESemmé Instant Refresh Dry Shampoo (R80)

tresemme dry shampoo

TRESemmé Instant Refresh Dry Shampoo

5. Blonde hare

Die probleem: Wanneer jy jou hare blond of lig kleur, moet jou hare dikwels eers gebleik word, wat erger skade aan jou haarkutikels aanrig as wanneer jy jou hare donker kleur. Hare wat blond gekleur is, kan ook ná ’n ruk geel lyk, veral as jy gereeld in die son kom.

Jou haarsorg-oplossing: Kies haarsorgprodukte wat spesifiek vir blonde hare geformuleer is om skade te herstel sonder om die kleur te vervaag. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper wat geelheid (soos ’n silwer of pers sjampoe) teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

Probeer: John Frieda Sheer Blonde Colour Renew Tone-Correcting Shampoo en Conditioner (R100 elk, by Clicks) en Philip Kingsley Daily Damage Defence Conditioning Spray (R600, by uitsoekwinkels van Edgars)

skoonheidhare14

Philip Kingsley Daily Damage Defence Conditioning Spray

Matthew McConaughey is in Suid-Afrika!