Skoonheidstories

Jou hare tydens swangerskap

Tydens swangerskap is daar baie veranderinge in jou liggaam weens hormoonskommelinge … Gelukkig is daar goeie nuus vir jou hare: Jy gaan vir 9 maande hoofsaaklik goeie haardae hê!

Normaalweg verloor jy tussen 50 – 100 hare per dag. Die ekstra hormone tydens swangerskap verander egter die groeisiklus van jou hare en veroorsaak dat jy minder hare verloor én dat dit dikker en gesonder lyk. Maar dit beteken nie jou hare het geen sorg nodig nie! Maak seker jou kroon lyk steeds op sy mooiste met dié moets en moenies tydens jou swangerskap.

 

Moenies:

• Moenie jou hare in die eerste trimester kleur nie. Jou kopvel kan die chemikalieë in die haarkleursel opneem en dit kan ongesond wees vir jou ongebore baba. As jy moet kleur, oorweeg eerder baba-ligstrepies (baby lights) wat nie op jou kopvel aangewend word nie, of semi-permanente kleur met min ammoniak daarin.

• Vermy ook keratienbehandelings soos ’n Brasiliaanse haarbehandeling (Brazilian blowout) of ’n vaste golwing (perm) tydens jou swangerskap.

• Moenie paniekerig raak as jou hare ná swangerskap skielik weer begin uitval nie. Sowat ses maande ná jou baba se geboorte keer jou hare se groeisiklus terug na normaal en kan dit voel asof jy skielik miljoene hare verloor. Hoewel dit normaal is, kan jy in dié tyd haarserums wat haarverlies teenwerk gebruik.

• Moenie jou hare in baie kort lae of ’n kuif sny nie. As jou baba eers daar is, gaan jy baie moet buk en jy sal jou hare maklik wil vasbind.

Moets:

• Praat met jou dokter as jy enige mediese haarsorgprodukte gebruik om kopvelprobleme soos ’n veluitslag, ekseem of skilfers te behandel omdat sommige van dié produkte ook bestanddele bevat wat vir jou ongebore baba skadelik kan wees.

• Indien die tekstuur van jou hare tydens jou swangerskap verander, pas jou haarsorgroetine aan. Kies byvoorbeeld haarsorg- en stileringsprodukte wat kroeserigheid voorkom of produkte wat keratien en proteïene bevat om fisieke skade aan jou hare te herstel en wend dit hoofsaaklik op die middelste lengte van jou hare tot jou haarpunte aan.

• Voed jou hare met ’n haarolie! Die meeste haarolies bevat hoofsaaklik ’n mengsel van natuurlike olies om jou hare intens te voed en bevogtig. Masseer soms ’n paar spuitjies in jou hare in om bloedsirkulasie na jou kopvel aan te wakker. Of smeer dit aan jou haarpunte voordat jy dit met ’n haardroër of -yster stileer om vog in jou kutikels in te seël.

• Kyk uit vir geurvrye haarprodukte. Tydens swangerskap kan sommige vroue meer sensitief wees vir sterk gegeurde skoonheidsprodukte en kan dit lei tot erge naarheid.

Probeer dié produkte:

TRESemmé Keratin Smooth Shampoo en Conditioner (R60 elk)

Tem kroeserigheid met dié sjampoe en opknapper wat ook keratien bevat.

Dove Pure Care Dry Oil Nourishing Treatment with African Macadamia Oil (R180)

Voed en bevog jou hare tydens swangerskap met dié haarolie.

Kérastase Densifique Sérum Jeunesse Hair Youth Serum (R900)

Dit bevat bestanddele wat die digtheid van jou hare verbeter en dit glansend en soepel laat lyk. Masseer die serum in jou kopvel in nadat jy jou hare gewas het. By uitsoeksalonne

Bronne: www.webmd.com, www.parent24.com

Lees nou

FOTO: Desiré Gardner se baba is hier!

Velsorgraad vir vel wat sensitief en rooi is