Skoonheidstories

Winter se gewildste oogskadu

Rooi op jou lippe en naels ken ons goed. Maar nou kry jou oë ook ’n tikkie van dié vurige kleur. By verlede jaar se Paryse Modeweek vir Lente/Somer 2017 het die modehuis Kenzo die kollig gesteel met rooi oogskadu wat tot by die modelle se slape geskakeer is. En daarmee saam? Bloedrooi lipstiffie.

En tydens gisteraand se jaarlikse Met Gala in New York het ’n klomp bekendes met dieselfde tipe treffende grimeervoorkoms gespog. Selena Gomez, Jennifer Connelly en Rihanna het almal pienkrooi oogskadu vir die aand gekies. Ons is mál daaroor!

Selena Gomez

 

Jennifer Connelly

 

Rihanna

 

Die tendens is ’n speelse manier om rooi hierdie somer te dra, sê Raine Tauber, senior grimeerkunstenaar by M.A.C. ’n Koperrooi of pienkrooi skakering gee lewe aan blou en groen oë. En ’n intenser oogomlyner in rooi is nie meer taboe nie en wys jy’s waaghalsig.

Dra só rooi op jou oë en lippe

* Wees versigtig as jy ’n baie ligte vel het, sê Raine. Rooi op jou oë sal enige rooiheid op jou vel meer opsigtelik maak. Eksperimenteer met vuilpienk, koper of bruin skakerings met ’n rooi ondertoon pleks van bloedrooi skakerings.

* Die toeganklikste manier om rooi te dra is om ’n oogskadu goed oor jou boonste ooglid te skakeer. Dit moet byna “uitgewas” lyk. Raam dan jou oë met ’n bruin oogomlyner en baie maskara, sê Raine.

* Kombineer jou rooi ooggrimering met helderrooi lippe. Rooi lipstiffie bly ’n staatmaker omdat die neutrale ondertoon by enige veltoon pas. Daar is nie ’n geleentheid waar dié klassieke kleur nie tuis is nie.

 

Probeer die produkte:

Chanel Le Rouge Collection No. 1 Les 4 Ombres Candeur Et Expérience (R920)

NYX Hot Singles Eye Shadow in Sin (R100 by Clicks)

L’Oréal Paris Infallible Stylo Eyeliner 24H Waterproof Eyeliner in Chocolate Addiction (R160)

Maybelline Lash Sensational Luscious Mascara With Oil Blend (R160)

M.A.C Lipstick in Lady Bug (R240)

Lees nou

Mooier vir onder R200

Golden Globes: Ons skoonheidsgunstelinge