Skoonheidstories

Hiperpigmentasie 101

In die skoonheidswêreld duik die woord hiperpigmentasie kort-kort op. Maar wat is pigmentasie presies? Wat veroorsaak dié verkleuring op jou vel? En hoe verminder jy die voorkoms daarvan? Die SARIE-skoonheidspan vertel jou meer:

Wat presies is hiperpigmentasie?

Volgens die skoonheidshuis Dermalogica verwys hiperpigmentasie na die donker vlekkies wat, soos wat jy verouder, op jou vel begin voorkom. Dit gebeur wanneer die melanosietselle in jou vel te veel melanien, wat kleur aan jou vel en hare gee, vervaardig. Hoewel die vervaardiging van melanien deur jou gene bepaal word, is daar drie groot oorsake van hiperpigmentasie, waarvan blootstelling aan UV-strale die grootste sondaar is.

Melanien word deur jou vel vervaardig om die beskadigende UV-strale wat jou vel deurdring te absorbeer (dít gee jou ’n sonbruin gelaat). Te veel blootstelling aan dié skadelike strale kan egter veroorsaak dat die melanosietselle beskadig word, saambondel en na die buitenste laag van jou vel beweeg om ’n donker vlekkie te vorm. Dieselfde kan gebeur as reaksie op ernstige velbeserings, soos in die geval van diep snye of erge aknee. ’n Verhoogde vervaardiging van hormone tydens swangerskap is ’n ander algemene oorsaak van pigmentasie. Dié vorm van pigmentasie kan ook vererger word as jy voorbehoedpille gebruik.

Lees ook meer oor plooie!

Hoe voorkom en behandel ek dit?

Ongelukkig bestaan daar nie ’n permanente behandeling vir hiperpigmentasie nie. Daar is wel verskeie skoonheidsbestanddele en behandelings wat die voorkoms daarvan kan verminder. Maar die goue reël om dié vlekkies te voorkom is die gereelde gebruik van ‘n sonskerm! Die gewoonte om elke dag ’n goed-geformuleerde sonskerm te dra, veral in sonnige SA, is die eerste stap in beskerming teen UV-strale.

Kyk ook uit vir produkte wat die volgende bestandele bevat:

  • AHA’s (wat in afskilferaars te vind is)
  • Produkte wat vitamien A bevat, soos retinol
  • Askorbiensuur (’n vorm van vitamien C)
  • Soethout-ekstrak (liquorice)

Ander opsies sluit in diep-afskilferingsbehandelings (peels), gesigbehandelings spesifiek ontwikkel om pigmentasie te verminder, en selfs laserbehandelings.

Hoe om jou skoonheidsprodukte reg aan te wend – lees meer!

Ons gunsteling-produkte wat die voorkoms van pigmentasie beveg:

Eucerin Even Brighter Day Cream SPF 30 (R250)

Clinique Even Better Dark Spot Defense SPF 45 (R455 vir 30 ml)

SkinCeuticals Advanced Pigment Corrector (R1645)

Vichy ProEVEN Night Overnight Concentrate Dark Spots & Uneven Skin Tone (R399)

Kiehl’s Clearly Corrective Dark Spot Solution (R615)

Elemis Advanced Brightening Even Tone Serum (R1 275)

Clarins Bright Plus Brightening Repairing Night Cream (R600 vir 50 ml)

 

Bronne: www.effortlessskin.com, www.paulaschoice.com

Volg dié 6 stappe vir ’n jonger vel