Skoonheidstories

Hoe om die perfekte parfuum te koop

Parfuum bly ’n besonderse geskenk. ’n Onlangse opname deur die internasionale handelsmerk Procter & Gamble het dit bevestig toe 85% van die deelnemers saamstem dat ’n bottel parfuum die perfekte geskenk vir Kersfees is, berig die Britse nuuswebtuiste Telegraph.co.uk.

Pak só die perfekte vakansietas

Omdat geur en emosie so nou verbind is, kan die reuk van parfuum herinneringe laat herleef, of dit kan jou wegvoer na ’n gelukkige tyd in jou lewe. Dit laat jou ook begeerlik en spesiaal voel, sê Jody Bunkell, plaaslike groep-kommunikasiehoof van Clarins, ook die verspreider van parfuums soos Azzaro en Thierry Mugler. Tog bly dit belangrik om ’n geur te koop wat by hom/haar én die seisoen pas.

Hiér is ’n paar wenke om jou te help met jou keuse:

-Vra wat die persoon se gunsteling-parfuum is en identifiseer die ster-bestanddeel of sterkste parfuumnoot daarin.

-Probeer uitvind watter tipe geur-familie die beste by die persoon gaan pas: vrugtige en blomgeure, chypre-geure of Oosterse speserygeure. Dink aan die persoon se styl en persoonlikheid.

  • Vrugtige of blomgeure is gewoonlik vars en sprankelend met note van sitrus, blomme en waternote.
  • Chypre-geure: So ‘n parfuum het vrugte-topnote, blomnote in sy hart en ’n hout- of muskus-basis. Dit skep ’n gevoel van vroulikheid en elegansie.
  • Oosters speserygeure – is gewoonlik warm en swaarder met note van speserye, vanielje, muskus en agarhout (oud).

-Onthou dat ons Kersfees in die somer vier, sê Jody. Kies ’n vars, ligte geur met note soos sitrus, bessie, peer, witblomme en waternote om by die seisoen te pas.

-As jy onseker is, moenie intense weergawes van ’n parfuum koop nie, mik eerder vir ’n geur wat lig en minder gekonsentreerd is.

-’n Parfuum met ’n tikkie vanielje verower die meeste mense se hart, se Jody. “Dit het ’n warm reuk wat ons dikwels terugvoer na ons kinderdae. Dit is koesterend en ’n geur wat jy weer en weer wil ruik.”

Probeer dié geure:

Vrugtige en blomgeure

Estée Lauder Modern Muse Le Rouge (R1 065 vir 50 ml EDP) - Roos, framboos en pienk peper word met vanielje, kuskusgras en jasmyn gekombineer

Vrugtige en blomgeure

REVLON Pink Happiness First Love (R289 vir 50 ml EDT) - 'n Geur propvol note van kersie, roos en vanielje wat herinner aan die Franse platteland

Vrugtige en blomgeure

Clarins Eau des Jardins (R495 vir 100 ml) - ‘n Vars sitrusgeur met note soos pomelo, suurlemoen en lemoen

Chypre-geure

Dior Miss Dior (R1 595 vir 100 ml EDP) - Sprankelend en vroulik met topnote van sitrus, hartnote van jasmyn en roos en 'n muskus-basis

Chypre-geure

Clinique Aromatics Elixir (R865 vir 45 ml EDP) - 'n Ou gunsteling met elegante note van roos, jasmyn, ilang-ilang en kuskusgras

Chypre-geure

Givenchy Dahlia Divin (R1 215 vir 50 ml EDP) - Dié delikate houtagtige geur betower met pruim, witblomme en sandelhout

Oosterse speserygeure

Yves Saint Laurent Black Opium (R995 vir 50 ml EDP) - Swart koffie en wit blomme sorg vir ‘n sensuele geur

Oosterse speserygeure

Elizabeth Arden Always Red (R495 vir 30 ml EDT) - ’n Oosterse blomgeur met note van jasmyn, freesia, amber en versuikerde amandels

Oosterse speserygeure

Azzaro Pour Homme (R945 vir 100 ml EDT) - Vir hom! Met note soos laventel, patsjoelie en muskus bly dié geur ‘n gunsteling onder mans

Addisionele bronne: www.telegraph.co.uk

Katy Perry en H&M vier saam Kersfees