Skoonheidstories

Ikoniese skoonheidsprodukte

Daar is talle ikoniese skoonheidsprodukte wat ons uit ons kinderdae onthou en selfs vandag nog getrou gebruik!

Wat onthou jy van dié gewilde produkte?

1. Vaseline Blueseal Petroleum Jelly (R17 vir 100 ml)

Dié bekende “wonder”-jellie is reeds in 1895 ontdek en ondergaan sedertdien ’n drievoudige suiweringsproses om te verseker dat alle onsuiwerhede en borrels verwyder word vir ’n sysagte tekstuur. Danksy dié tekstuur bied petroleumjellie uitstekende bevogtiging vir jou vel deur die natuurlike olielagie aan te vul en vog in te seël. Navorsing het ook getoon dat een Vaseline-produk elke sekonde in SA verkoop word – volgens ’n persverklaring.

2. Elizabeth Arden Eight Hour Cream Skin Protectant (R265)

Eight Hour Cream het glo sy naam gekry toe ’n vriendin van Elizabeth Arden die room op haar seun se stukkende knie gesmeer het en dit binne agt uur beter was. Die wenformule van dié room, wat jy oor jou hele lyf kan gebruik, is ná meer as 80 jaar steeds onveranderd!

3. Dove Beauty Cream Bar (R10)

Dié bekende wit seep is veral gewild omdat ’n kwart daarvan uit bevogtigingsroom bestaan en dit net die ligste reinigers bevat om ekstra sag op jou vel te wees. En die prys is sakpas!

4. Nivea Creme (R20 vir 60 ml)

Die verpakking van dié vogroom is dalk eenvoudig, maar Nivea Creme se formule was in 1911 ’n wetenskap-wonder. Vir die eerste keer is ’n middel wat water en olie stabiel kon laat kombineer in ’n velsorgproduk omskep. Bevogtigende lipiedes, olies en geur is bygevoeg en só is Nivea gebore. Dié blikkie room is tot vandag toe hul bekendste produk

5. Chanel No. 5 Eau de Parfum (R1 600 vir 50 ml)

’n Geur wat byna 100 jaar later steeds wêreldwyd ’n topverkoper is, en waarvan elke 6 sekondes een bottel verkoop word. Chanel No. 5 is vandag nie net die wêreld se bekendste parfuum nie, maar ook die eerste geur wat deur ’n modeontwerper geskep is.

6. Maybelline Great Lash Mascara (R90)

Dit is reeds meer as 40 jaar gelede geskep, maar die pienk-en-groen buisie van Maybelline se Great Lash Mascara is steeds ’n gunsteling onder vroue en grimeerkunstenaars die wêreld oor danksy die kenmerkende dun maskaraborsel en formule wat nie klonte maak nie.

 

 

Watter skoonheidsprodukte onthou jy nog van jou kinderdae? Deel jou herinneringe met ons op Facebook, Twitter of Instagram

Lees nou

Sal jy rooi maskara op jou wimpers dra? – lees meer!

Nuwe haar-trend: Die sexy S-golf