Skoonheidstories

In Kate Middleton se handsak

Saterdag skop die hertog en hertogin van Cambridge, prins William en Kate Middleton, se koninklike toer in Kanada af. En hul twee kinders, prins George en prinses Charlotte, gaan saam – dis kleine Charlotte se eerste amptelike toer. Teen dié tyd moet hulle al yslik groot wees!

Met só ’n reis moet als natuurlik eksieperfeksie wees, daarom het hulle omtrent ’n gevolg en ’n half wat saamgaan. Kate se span bestaan uit drie mense: haar sekretaresse, Rebecca Deacon, haar persoonlike, Natasha “Tash” Archer, en haar haarstilis, Amanda Tucker.

Kate is bekend daarvoor dat sy self haar grimering doen, nes die koningin. Die hertogin het selfs op haar troudag haar eie grimering gedoen! Haar kenmerkende grimeervoorkoms is subtiele rokerige oë met welige wenkbroue en ’n tikkie pienk op haar wange en lippe. Dié voorkoms werk vir haar en laat haar glansryk dog gemaklik en toeganklik lyk.

FOTO Instagram / @kensingtonroyals

FOTO Instagram / @kensingtonroyals

FOTO: Nielen de Klerk

FOTO: Nielen de Klerk

Volgens bronne, soos The CarouselUS Weekly en Hollywood Life, dra Kate altyd in haar handsak (groot of klein) die volgende items: sneesdoekies, handeroom, lipbalsem en gesigpoeier.

Maar met dié dat kleine Charlotte en George ook saamgaan, sal mamma Kate beslis meer in haar handsak hê.

Dié skoonheidsprodukte is glo Kate se gunstelinge:

Gesonde vel

Volgens die Amerikaanse tydskrif Town & Country gebruik Kate blykbaar al jare die Switserse velsorgreeks Karin Herzog vir haar velsorgroetine. Haar gunsteling-produk is glo die Vita-A-Kombi 1 Anti-Age Day & Night Face Cream (R874, by uitsoeksalonne). Dit bevat vitamien A en 1% aktiewe suurstof wat die vervaardiging van kollageen stimuleer, help om die voorkoms van fyn lyntjies en plooie te verminder en sorg vir ’n stralende gelaat.

Gesonde vel

Voor haar troudag het Kate by die bekende Britse skoonheidsterapeut Deborah Mitchell aangeklop vir haar gewilde Bee Sting Facial, berig die koninklike verslaggewer Katie Nicholl in Vanity Fair. Die behandeling bevat onder meer 'n bestanddeel wat van byegif gemaak word en help om die vel te verferm en op te plomp. Sedertdien gaan Kate gereeld vir die behandeling voordat sy groot geleenthede bywoon. Sy gebruik ook die Deborah Mitchell Black Bee Venom Mask tuis.

Natuurlike naels

Kate hou van ’n natuurlike en subtiele voorkoms vir haar naels. Volgens Marina Sandoval, Kate se manikuris die afgelope vyf jaar, verkies sy ’n klassieke Franse manikuur met haar naels kort en vierkantig gevorm, berig die Britse koerant Daily Mail. Op die hertogin se troudag met prins William het Marina Essie Nail Polish in Allure (R125) vir Kate se naels gekies. Dié skakering komplementeer die hertogin se gelaatskleur perfek, het Marina aan Daily Mail gesê.

Welige wenkbroue en rosige gloed

Volgens koninklike verslaggewer Katie Nicholl is Kate veral ’n aanhanger van die Bobbi Brown-grimeerreeks. Sy gebruik die Bobbi Brown Brow Pencil in Mahogany (R290) om haar wenkbroue in te vul. Die Bobbi Brown Shimmer Brick Compact in Bronze (R675) was glo ook die geheim agter haar natuurlike rosige gloed nadat sy aan prinses Charlotte die lewe geskenk het, volgens Daily Mail.

Soet geur

Lemoenbloeisel is 'n spesiale geur vir die hertogin! Sy het blykbaar haar troudag met die bekende Britse parfuumhuis Jo Malone se Orange Blossom Cologne (R1 480 vir 100 ml EDC) gegeur.

Sagte en gesonde hare

Hoewel dit nog nooit bevestig is nie, is Kate na bewering lief vir die Kérastase Nutritive Bain Satin Shampoo (R290, by uitsoeksalonne) om haar lokke sag en gesond te hou, volgens die webtuiste www.whatwouldkatedo.com.

Rokerige oë

En die geheim agter haar kenmerkende rokerige oë? Volgens die skinderwebtuiste hellomagazine.com het 'n bron na aan die hertogin al verklap dat Kate graag die gewilde Urban Decay Naked Palette (vanaf Junie beskikbaar in SA) op haar oë gebruik, waarna sy haar voorkoms afrond met Lancôme se Hypnôse Mascara (R390).

Bronne: www.vanityfair.com, www.hellomagazine.com, www.dailymail.co.uk, www.townandcountrymag.com

Amerika se eerste supermodel – 110 jaar gelede!