sr1011esteecarolyn_3_
Skoonheidstories

Is duur velsorgprodukte die geld werd? Michélle van Breda vertel uit NY

Luukse velsorgprodukte is dikwels die onderwerp van vroue se besprekings. Elke potjie mooi en blink, maar werk hulle? Is hulle die geld werd? Michélle van Breda het onlangs in NewYork by van die voorste velsorgkenners gaan uitvind.

Wat maak ’n gesigroom 115 dollar werd? Kom vind uit! Wie sou só ’n uitnodiging kon weerstaan? In 1958 was dit dié opskrif in die plaaslike koerant van ’n dorpie in Texas wat vroue na die toonbank laat stroom het. Dit ondanks die feit dat ’n goeie vogroom in daardie dae niks meer as 10 dollar gekos het nie, en niemand (behalwe die skoonheidsghoeroe Estée Lauder self ) gedink het só ’n buitensporig duur produk sou enigsins belangstelling ontlok nie.

Maar Estée het toe al geweet dat geld vir vroue dikwels nie ’n opsie is as hulle oortuig is die produk gaan werk nie. En die veelbesproke produk? In die laat 1950’s in Amerika kon dit nét Re-Nutriv Crème in sy elegante goue pot gewees het – die room wat Estée aanvanklik vir haar eie sensitiewe vel geskep het. Haar “room van rome” was al só waardevol dat dit apart van haar ander produkte in groot geheimhouding vervaardig is. Van die beste, duurste en skaarsste vir daardie tyd was onder die gesigroom se 26 bestanddele: seeskilpad-olie, haaiolie, prinsesselei (royal jelly)…

Die elegante huis in die Oos-Hamptons

Die luukse huis in die Hamptons

 

Die uitnodiging

Die eksklusiewe uitnodiging

 

.

 
‘n  Eksotiese formule wat vandag behoorlik ons oë laat rek, maar wat vroue in die na-oorlogse jare hul beursies laat oopmaak het ondanks hul sosiale stand en geldelike vermoë. “Jy betaal vir ’n produk wat met jare se ondervinding en vaardigheid geskep is om vir jóú te werk. Hierdie is die beste room ter wêreld. Duur ja, maar so lonend,” het Estée destyds verklaar. Ongetwyfeld was hierdie ’n eerste tree in die wêreld van luukse skoonheid soos ons dit vandag ken: peperduur produkte wat die beste bestanddele en baanbrekernavorsing en -tegnologie saamvoeg in formules om ons net daardie entjie nader aan ons droom – ’n jeugdiger voorkoms – te bring.
Toe SARIE ’n rukkie gelede na Estée Lauder se naweekhuis (ná haar dood het haar kleindogter Aerin dit oorgeneem) in Amerika genooi is (Aerin invites you to her home . . .) vir ’n nuwe skoonheidsbekendstelling, kon ook ék nie die uitnodiging weerstaan nie. Die produk: Re-Nutriv, ná 50 jaar steeds die skoonheidshuis se spreekwoordelike pot goud. Die plek: Die Hamptons, ’n rits kusdorpies op Long Island net meer as twee uur buite New York wat bekend geword het vir hul mooi strande, vyfster-winkels en -restaurante en die elegante huise van die rykes en bekendes. Die gaste: Aerin Lauder, Estée Lauder se kreatiewe direkteur, drs. Daniel Yarosh en Nadine Pernodet, albei wetenskaplikes vir die Estée Laudergroep, Carolyn Murphy, een van die wêreld se top-modelle en die gesig van Re-Nutriv, en ’n handvol tydskrifredakteurs van oor die wêreld. Die antwoord: Absoluut ja!

Van eksotiese haai-olie en prinsesselei in die oorspronklike formule het niks oorgebly nie – dít het ek sommer vinnig uitgevind. In die plek daarvan het ek kennis gemaak met ’n kombinasie van natuurlike en toonaangewende bestanddele gegrond op die gevorderdste velsorgtegnologie ter wêreld. Wat wel onveranderd gebly het, is die luuksheid van die produk. Duidelik word geen geld ontsien in die formulering van dié hoog aangeskrewe reeks nie.

Maar waarom sal moderne vroue, wat soveel keuses het, honderde en selfs duisende rande vir enige produk betaal? was my eerste vraag aan dr. Yarosh, ’n kenner op die gebied van die vel se DNS-herstel. “Vir die luukse, ja. Maar ook omdat vroue werklik die waarde van gehalte-velsorgprodukte verstaan. Dis baie duidelik dat vroue wat die laaste 10 tot 20 jaar goed na hul vel omgesien het, stadiger verouder as vroue wat dit nie gedoen het nie. En ook, as sekere vroue hierdie eksklusiewe produkte bly ondersteun, verskaf dit die geld wat wetenskaplikes in staat stel om voortdurend navorsing en produkontwikkeling te doen waarby nie net luukse produkte baat nie, maar álle velsorgprodukte en selfs die mediese veld.”

Inderdaad bestee miljoene vroue in ‘n leeftyd derduisende rande aan velsorgprodukte, en natuurlik is dit gekoppel ann ons wens om so lank as moontlik so goed en so jonk as moontlik te lyk. Meer as 50 jaar gelede was vroue al bereid om 115 dollar vir ’n pot wonderroom te betaal. “It keeps me looking young and vital,” het ’n volkome oortuigde verbruiker in ’n vroeë Re-Nutriv-advertensie gesê. Vandag is teenveroudering een van die sektore in die kosmetiese bedryf wat die vinnigste groei. Volgens ’n artikel op www.cosmeticsdesign.com vlieg dié produkte behoorlik van die rak af en is die verwagting dat internasionale verkope in die volgende paar jaar teen dubbelsyfers sal groei. By voorste skoonheidshuise soos Estée Lauder is navorsing grootliks gefokus op ’n beter begrip van veroudering – die proses, die sondaars wat die proses aan die gang sit en die eliksers wat die proses vertraag of selfs gaan omdraai.

Dit is met oortuiging dat drs. Yarosh en Pernodet sê Re-Nutriv se nuwe Ultimate Lift Age-Correcting Crème, waarmee SA vroue van vandeesmaand kennis maak, is die beste niekosmetiese ontrimpelingsproduk (lifting product) tans op die mark. Dié unieke room werk op die veloppervlak sowel as op sellulêre vlak. Dit is die eerste keer dat ’n vogroom sekere gene in die selle van die vel aktiveer om homself van binne te verferm en te lig. Die term “age-correcting” in die naam hou ook die belofte in van ’n room wat jou vel tot minstens in lyn met jou gedagte hou dat Suid- Afrikaners volgens velsorgkenners vyf jaar en selfs ouer lyk as hul ouderdom weens te veel blootstelling aan ons genadelose Afrika-son.

Re-Nutriv Ultimate Lift Age-Correcting Creme

Die Re-Nutriv Ultimate Age-Correcting Créme ‘n Potjie goud van Estée Lauder
 
Matthew Growdon, bestuurder van Estée Lauder SA, beaam dat wêreldwye toetse op hierdie produk die skoonheidshuis se mees ingrypende resultate tot nog toe opgelewer het. Net ’n kykie na die nuwe Re-Nutriv se bestanddele, en jy besef die geskiedenis herhaal homself. Die velsorgreeks bly ’n markleier in luukse skoonheid, en van die beste in die skoonheidswêreld vandag – van bestanddele wat al eeue lank deel van volke se kruieskatkis is tot dié wat deur innoverende tegnologie geskep of tot volle potensiaal gestimuleer word – is ingespan.Om te hoor dat ’n volle 38 patente op hierdie reeks wag, is toe glad nie verrassend nie.

En baie hiervan het met energie te doen! Saam met die innoverende ontrimpeling-tegnologie verhef nuwe energie-tegnologie hierdie velsorgreeks tot ’n nuwe vlak, verduidelik dr. Yarosh. Die vel verouder omdat beskadigde selle basies energie kort om normaal te funksioneer en die vel ferm en glad te hou. ’n Rits lewegewende molekules is geïdentifiseer om die vel se DNS te herstel: Eerstens om die vel se vermoë om energie te behou te verbeter, dan om die vel se energie so aan te vul dat selle weer optimaal funksioneer en uiteindelik om die vel meer energiek en jeugdiger te laat lyk.

Een van hierdie molekules is “rock of life”-alge, wat al drie biljoen jaar in uiterste omstandighede oorleef en waarvan fossiele onder meer in KwaZulu-Natal se Umbilo-rivier te kry is. In die formule help dié molekules om selle te herstel en teen verdere skade te beskerm. Silketare, wat net tussen Mei en Oktober van ’n seeplant aan die kus van Bretagne onttrek word, is bygevoeg om die vel se langlewendheidsgeen SIRT-3 ekstra woema te gee. Dié geen het te make met hoe lank selle in die vel aktief bly. (Die aktivering van hierdie geen in die selle van die vel is juis van die innovasie wat die skoonheidshuis wêreldwyd aan die voorpunt van nuwe tegnologie plaas.) Die aminosuur EGT, ’n kragtige antioksidant en een van die boublokke van die lewe, verskaf nodige energie aan selle en raak ook van beskadigende molekules, vry radikale, ontslae.

Swart toermalyn, ’n klip met ’n klein elektriese stroom wat onder sekere volke bekend is vir sy helende kragte, is in Brasilië diep uit die aarde gehaal om die vel se kollageenproduksie te stimuleer. Dít lei tot die vel se stelselmatige ontrimpeling, sg. lifting, en dr. Pernodet verseker dat jy ’n aansienlike verbetering in jou vel sál sien. Fyngemaalde pêrels van die Suidsee verskaf dadelik glans, terwyl kolloïdale goud, ’n oplossing van atome van suiwer goud, enige moontlike velirritasie sal laat bedaar. Meer luuks kan ’n room seker nie! Maar is dit die pot goud aan die einde van ons altyd jonk-reënboog?

Drs. Yarosh en Pernodet sê die vordering in teenveroudering-produkte die laaste jare is danksy die ontleding van die menslike genoom in 2003. Dit het die veld van epigenetika – die ontdekking dat omgewingsfaktore ’n impak op jou gene het sonder om die ranglys van gene te verander – wawyd oopgemaak en dit is waarop wetenskaplikes en medici, ook ten opsigte van kankernavorsing, nou ’n groot deel van hul aandag konsentreer.

Danksy hierdie ontwikkeling werk ’n goeie produk nie meer net op en in die boonste lae van die vel nie, maar ook dieper ín die selle om die vel te stimuleer om weer normaal te funksioneer.Hoe meer wetenskaplikes die verouderingsproses verstaan, hoe meer sal tegnologie aangewend word om die vel te help om sy verlore jare terug te eis. Volgens dr.Yarosh sal hierdie nuwe energie-tegnologie ook gebruik word om ander tekens van vroeë velveroudering om te keer. Velpigmentasie is een. Die eerste kliniese toets is reeds gedoen en die resultate lyk uiters belowend.

Dié van ons wat swig voor die luukse van ’n ryk, fluweelsagte lekkerruik-room sal maar vorentoe ons beursies moet bly oopmaak. Want met die spoed van velsorgtegnologie kom ons elke keer ’n bietjie nader aan ons droom van altyd jonk. Boonop is dit soos Estée Lauder gesê het: “Wees goed vir jou vel, dis die enigste een wat jy het.”

Estee Lauder in die 50&aposs en 60&aposs

Estée LAuder in die 50’s – 60’s

 
Re-Nutriv Ultimate Lift Age-Correcting Crème, geskik vir elke velsoort, is van 4 Oktober in SA beskikbaar. Saam met die vogroom sal ’n serum en ’n oogroom ook te kry wees. Beskikbaar by uitsoektakke van Edgars, Stuttafords en Truworths. R1 100 tot so R2 250.