Skoonheidstories

Jou groen skoonheidsgids: Ken jou etikette

’n Omgewingsvriendelike of groen leefstyl raak al hoe gewilder. En selfs in die skoonheidswêreld word dit al hoe makliker vir ons om omgewingsbewuste keuses te maak, danksy ’n groter verskeidenheid groen produkte wat wyer beskikbaar is. Maar wanneer jy voor ’n rak vol produkte met etikette soos 100% natural, organic, cruelty free, chemical free en vegan staan, weet jy nie altyd wat dié woorde nou eintlik beteken nie …

Hiér is die belangrikste etikette:

Natuurlik

Wat dit beteken: Skoonheidsprodukte wat as natuurlik beskryf word, bevat hoofsaaklik bestanddele wat in die natuur voorkom. Dit bevat dus min of geen chemies vervaardigde of sintetiese bestanddele nie.

Wat jy moet weet: Die gebruik van die woord natural op die verpakking van skoonheidsprodukte word nie deur enige instansie gereguleer nie. Dit beteken dat sommige produkte met dié etiket net ’n klein hoeveelheid natuurlike bestanddele kan bevat, terwyl die res sinteties is. Kyk daarom noukeurig na die bestanddelelys van produkte om te sien hoeveel van die bestanddele natuurlik is.

Wenk: Bestanddele word gelys in volgorde van dié wat die grootste hoeveelheid van die formule uitmaak tot dié wat die minste is. Kyk uit vir produkte met chemiese of sintetiese bestanddele heel onderaan die bestanddelelys.

 

Organies

Wat dit beteken: Skoonheidsprodukte wat as organies gesertifiseer is, bevat bestanddele wat sonder chemiese plaagdoders of kunsmis gekweek is. Die bestanddele is ook nie geneties gemanipuleer nie.

Wat jy moet weet: ’n Organiese etiket op skoonheidsprodukte verwys hoofsaaklik na die oorsprong van die produk se bestanddele en het nie betrekking op die formule of doeltreffendheid van die produk nie, volgens die internasionale velsorgkenner Paula Begoun, skrywer van Don’t Go To the Cosmetics Counter Without Me.

Veganisties

Wat dit beteken: Veganistiese skoonheidsprodukte bevat geen bestanddele wat van diere of die neweprodukte van diere afkomstig is nie. Dié bestanddele sluit onder meer gelatien, heuning, byewas, melksuur of lanolien (olie wat uit skaapwol verkry word) in.

Wat jy moet weet: Veganistiese skoonheidsprodukte kan wel sintetiese weergawes van dierebestanddele bevat.

Sonder wreedheid (cruelty free)

Wat dit beteken: Die formules en bestanddele van skoonheidsprodukte met ’n “sonder wreedheid”-etiket is geensins op diere getoets nie.

Wat jy moet weet: Die produkte kan steeds bestanddele van diere of diere-neweprodukte bevat.

Dié produkte word beskou as natuurlik, organies, veganisties of sonder wreedheid:

Natuurlik

Skoon Concentrate Rosehip C+ (R565). Besoek www.skoonskin.co.za

Natuurlik

Lush Karma Kream Body Lotion (R275). By Lush-winkels in Kaapstad, Johannesburg en Durban

Organies

Team Dr Joseph Ultra Intense Moisturizing Cream (R1 335). Besoek www.futurethis.co.za of skakel 0860 018 022

Organies

Esse Cream Cleanser (R330). By uitsoeksalonne en –spa’s of besoek www.esseskincare.co.za

Veganisties

Inglot HD Perfect Coverup Foundation (R479). By uitsoektakke van Edgars

Veganisties

Dermalogica Oil Free Matte SPF 30 (R800)

Veganisties

Bodyography A Kiss To The Classics Matte Lip Color in Lolita (R230). By uitsoektakke van Placecol-, Dream Nails- en Perfect 10-salonne

Veganisties

Paul Mitchell Marula Oil Rare Oil Replenishing Shampoo (R375) en Conditioner (R395) – elk 222 ml. By uitsoeksalonne

Bronne: www.byrdie.co.uk, www.paulaschoice.com, www.harpersbazaar.com

Lees nou

Jou Olimpiese gids vir die volgende twee dae

Pas jou parfuum by jou persoonlikheid? Doen ons toets en vind uit!