okt08artikel1a
Skoonheidstories

Jy’s uniek

In Egipte en die Antieke Wêreld was Cleopatra se skoonheid legendaries. Hoe beeldskoon sy werklik was, word vandag bevraagteken. Maar sy was ongetwyfeld die meesteres van betowering. Sý was uniek in die kuns van verleiding.

Die purper seile van haar skepe was glo deurweek met rooswater om die aankoms van die eksotiese koningin van die Nyl aan vriend en vyand te verkondig. Die legende lui ook dat sy die Romeinse generaal Markus Antonius verlei het deur haar fonteine met rooswater te vul en ’n tapyt bloedrooi, heuningsoet roosblare om haar bed te strooi. En só het een van die fassinerendste liefdestories van die vroegste tye ontvou, ’n verhaal wat verewig is deur Shakespeare in Antony and Cleopatra en herhaaldelik in epiese rolprente uitgebeeld is.

In Parys, die kommersiële mekka van parfuum, hardloop ’n silwerdoekster in swart satyn met ’n spiraaltrap op. Sy kyk uit oor die stad wat romanties in die aandlug gloei, terwyl die held haar in die ware tradisie van ’n ou Hollywood-prent volg – betower deur haar skoonheid en die geur van haar parfuum. Hy soen haar hand; die oomblik is intiem.

Dis somer in Parys en vir die heel eerste keer word dié parfuumadvertensie op ’n perfekte aand aan ’n uitsoek-gehoor vertoon. Die kristalbottel skitter soos ’n juweel op reuse skerms in die stad se Grand Palais met sy hoë, imposante glaskoepel. Weerskante van die balsaal se spiraaltrappe flits die parfuum robynrooi en verloklik. Elke bottel bevat die ekstrak van nagenoeg 2 000 eksotiese rose, sê die parfuummeesters. Die ryk heuninggeur van die Mai de Grasse-roos en die vars sprankel-note van Bulgaarse rose sweef deur die lug – sekerlik so verleidelik soos in Cleopatra se tyd.

Lancôme se Magnifique.

En volgens kenners steeds een van die verruklikste natuurlike geure tot ons beskikking. Dan volg die reuk van kosbare, speseryagtige saffraan, eksotiese hout, sensuele jasmyn . . . Die gehoor van media-redakteurs, parfuum-foendies en kleinhandelaars van oor die wêreld is op hul voete om erkenning te gee aan ’n nuwe, unieke geur in die konstellasie van wêreldparfuums.  Die bekendstelling van ’n parfuum soos Lancôme se Magnifique (geklassifiseer as ’n houtagtige, blom-, speserygeur) is méér as net ’n glans-geleentheid.

Soos ’n perfek gekomponeerde musiekstuk speel elke geurnoot met ons gevoelens en lok ons uit om te droom. Niemand stel dit beter nie as Odile Roujol, internasionale president van Lancôme, wanneer sy sê: “Parfuums is méér as net onvergeetlike geure; hulle is pragtige, tydlose stories wat sterk emosies ontlok.”

Veral vir vroue is die kombinasie van die geur, die bottel en die storie wat daarom geweef word eenvoudig onweerstaanbaar. Dís waarvan drome gemaak word. “Ons skep intieme emosies. Dis wat ’n parfumeur doen. Dis ons droom, elke keer, om vroue te verras en intense plesier te verskaf,” som meester-parfumeur Jacques Cavallier ’n dag ná die bekendstelling dié eeue oue kunsvorm vir my op. “My plesier lê daarin om te sien hoe vroue deur geur betower word. Die vreugde wat my vrou uit haar parfuum kry, beteken alles vir my,” sê die man wat al meer as 70 internasionale fyngeure op sy kerfstok het.

Dit bly ’n viering van een van die oudste, mees komplekse en sensuele kunsvorms. Opgrawings wys dat parfuum die mensdom reeds 4 000 jaar gelede verlei het.

Saam met parfumeur Olivier Cresp, skepper van van die heel bekendste moderne parfuums, het hulle byna drie jaar lank gewerk, geurnote van elke uithoek van die planeet ingespan en nie minder nie as 5 000 aanpassings gemaak voordat hulle tevrede was dat Magnifique vroue die wêreld oor sou bekoor. Vir Anne Hathaway, die 26-jarige Amerikaanse rolprentster wat onder meer te sien was in Brokeback Mountain en behoorlik haar merk in The Devil Wears Prada gemaak het, is dit duidelik “’n droom wat waar geword het”. In ’n onlangse onderhoud met die modetydskrif Harper’s Bazaar het sy juis die skep van betekenisvolle oomblikke as haar inspirasie uitgesonder.

’n Groter oomblik kon sy nie gekies het nie, want sy is die verpersoonliking van hierdie nuwe geur. Dis háár gesig wat Magnifique nou tegelyk aan vroue in 165 lande, ook in Suid-Afrika, bekend stel.  “Ek kan nie gelukkiger wees nie! Vir my ís hierdie parfuum ’n viering van die lewe,” sê Anne,’n boorling van Brooklyn, New York, wat bekend is vir haar silwerdoek-grasie, wye Julia Roberts-glimlag en Audrey Hepburnstyl van toneelspel. By Odile, wat verlede jaar spesiaal New York toe gevlieg het om Anne te gaan uitsoek, is daar geen twyfel nie dat hierdie parfuum ’n wêreld-wenner sal wees. Volgens die webtuiste cosmeticnews.com hoop Lancôme om met hierdie geur die nommer-3-posisie in die wêreld in te neem.

 

Parfumeurs skep intense emosies. Dis ons droom om te verras en intense plesier te verskaf - parfuummeester Jacques Cavallier

 

“Ek glo dit kan ’n klassieke geur wees soos Chanel No 5, wat in 1921 bekend gestel en steeds bo is, of ’n Trésor, wat al 18 jaar lank ons top-verkoper is. Hierdie geur is luuks en elegant, iets wat kortkom in vandag se parfuummark. Én die DNS is sterk – die roos is deel van ons tradisie, maar hier word dit op ’n intenser manier ingespan. Daar’s iets gewaagds.”

Vir haar is Anne die perfekte ambassadeur. “Sy is vroulik, maar ook speels en uitdagend. Boonop is rooi haar gunsteling-kleur. Ek het net vanoggend saam met haar ontbyt geëet en sy het my bedank omdat ons haar ‘lewe verander het’. Ek het gesê: ‘Nee, ons bedank jóú!’”

Rooi, die kleur van lewe, passie en energie was deel van die opdrag vir Magnifique wat geur en verpakking betref. Rooi wat histories ’n vurige, manlike kleur is. So ook was hout, tradisioneel ’n manlike geurnoot, deel van die opdrag, erken Pauline Zanoni, Lancôme se internasionale kreatiewe direkteur van geur. “Drie jaar gelede toe ons op ’n nuwe geur besluit het, het my instink gesê die tyd is reg vir hout- en leeragtige geure.” Om ’n houtgeur vir vroue te skep was die ware kreatiewe uitdaging, sê die twee parfumeurs.

“Tot nou toe is hout meestal in mansen uniseks-geure gebruik. En ons wóú ook roos gebruik. Dít was die uitdaging: die meer manlike note teenoor die vroulike geurnote,” sê Olivier. En dan vertel hulle ’n storie wat bydra tot die misterie van geur deur die eeue heen. Wie sou dink dat ’n essensiële olie waarmee vroue se sari’s tradisioneel gegeur word, hul uiteindelike inspirasie sou wees?  Tydens ’n besoek aan Indië om nuwe blom-geurnote – “daardie één spesiale noot wat die verskil sou maak” – te soek, het ’n verskaffer hulle onverwags gelei na iets wat hulle nié gesoek het nie: nagarmotha – ’n ekstrak van die papirus-wortel. “Ons was verras en bekoor. Die reuk is baie spesifiek, eksoties, iets wat ons nog nie ervaar het nie. Dis tegelyk rokerig en speseryagtig, selfs leeragtig.

Als wat eksotiese bestanddele soos sandelhout, kuskusgras (vetiver) en patsjoelie saam is. Die reuk is aanvanklik sterk, maar ná ’n rukkie ontbloot dit sy warmte en diepte. Op kladpapier hou dit 4 tot 5 maande!  “Vir ons was nagarmotha ’n geskenk uit Indië. Want dít is die uitsonderlike houtgeur in Magnifique. Die fluweelkenmerke van die twee soorte rose wat ons gebruik het, saam met die speserygeur van saffraan, sorg vir die balans. Dít skep die vroulikheid. Die wêreld se grootste parfuums is geskoei op harmonie én kontras,” verduidelik Jacques met ’n entoesiasme wat aansteeklik is.

Pauline glo die uitsonderlikheid van dié geur lê juis in die meesterlikheid waarmee hierdie ongewone geurnote saamgesnoer is. Sal hierdie flambojante ode aan rooi en hout vroue verras en bekoor? vra ek die twee meesters ten slotte. “Ons style is eenvoudig, selfs minimalisties, en ons verstaan nie altyd ons eie emosies wanneer ons skep nie. Maar skielik word die idee ’n geur, en ons wéét net dis reg. Daar’s ’n eerlikheid omtrent vandag se vrou. Die tyd vir só ’n geur is nou!”

Magnifique is nou landwyd in uitsoek-winkels te kry. Magnifique Eau de Parfum is beskikbaar in 30 ml, 50 ml en 75 ml.